In 2 411 skole het alle gr. 9’s tussen 0 en 30 persent vir wiskunde behaal in die jaarlikse nasionale assessering wat leerders in gr. 1-6 en gr. 9 verlede jaar afgelê het.

In totaal is 2 805 skole landwyd getoets.

Die uitslae het onthul twee-derdes van gr. 6-leerders en net meer as 40 persent van gr. 3’s het 50 persent of minder vir wiskunde behaal.

Gr. 6-leerers in 429 skole landwyd het tussen 0 en 30 persent vir wiskunde behaal, terwyl dieselfde waar is vir gr. 3’s in 59 skole landwyd.

Limpopo het die swakste in die assessering gevaar, gevolg deur landelike dele van Mpumalanga, die Noord-Kaap, en die Oos-Kaap.

Die jaarlikse nasionale assesserings vir 2014 is verlede maand afgelê. Die uitslae gaan na verwagting in Desember bekendgemaak word.