“Dit voel asof ’n bus ons getrap het,” het sy na bewering gesê in ’n onderhoud vir ’n navorsingsartikel wat handel oor die trauma van in ’n kriminele verhoor ’n getuie wees.

Sy het gesê die voorlegging van Oscar se prokureur Barry Roux se hoofde van betoog vroeër in Augustus was folterend. Hy het Annette en haar man se getuienis as “oordrewe en teenstrydig” beskryf.

“Jy voel of jy persoonlik aangeval word. Jou integriteit word bevraagteken. Ons het gevoel (ons) word as leuenaars aangeval,” het Annette gesê.

Die navorsingsartikel deur Karen Tewson, die hoof van hofvoorbereiding by die Nasionale Vervolginsgesag, het bevind baie getuies en slagoffers word in die getuiebank getraumatiseer en geviktimiseer, dikwels tydens kruisondervraging.

Regt. Thokozile Masipa sal op 11 September in die moordverhoor uitspraak lewer.

Oscar staan tereg weens die moord van sy meisie, Reeva Steenkamp. Hy het haar op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote deur in sy huis in Pretoria geskiet. Hy beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien.

Annette, wat naby Oscar se huis woon, het getuig van skote, gevolg deur ’n vrou se gille wat sy sê sy die oggend van die voorval gehoor het.

- Sapa