Paul Walker se familie was glo onkant betrap deur die nuus dat spoed die oorsaak van sy noodlottige ongeluk was, en is woedend omdat wetstoepassers hulle nie gekontak het met die inligting voor hulle dit openbaar gemaak het nie.

Die Fast and the Furious-akteur en sy vriend Roger Rodas is op 30 November in Santa Clarita, Kalifornië, dood toe Roger beheer verloor oor die Porsche Carrera GT waarin hulle gereis het en verongeluk.

Ondersoekbeamptes het Dinsdag ’n verslag uitgereik wat beslis het oormatige spoed het die ongeluk veroorsaak, aangesien daar geen bewyse van meganiese foute gevind is nie.

’n Bron na aan die wyle akteur se familie het aan die webtuiste TMZ.com gesê hulle voel verraai deur die Los Angeles-polisie omdat hulle oor die oorsaak van die ongeluk via die media moes uitvind.

Volgens die amptelike verslag het Roger teen tussen 130 en 150 km/h bestuur toe hy om ’n draai beheer verloor en teen ’n lamppaal bots, wat ’n spoedgrens van 72 km/h aangedui het. Die motor het daarna in vlamme uitgebars.

Die familie is ontsteld dat hulle nie ’n oproep gekry het voor die bevindings aan die publiek bekendgemaak is nie. Die bron sê die familie het maande op die uitkoms van die ondersoek gewag en voel die polisie het kil opgetree deur nie na hulle uit te reik nie.

Paul word oorleef deur sy ouers, Paul Walker sr. en Cheryl Walker, en sy 15-jarige dogter, Meadow Rain Walker, die enigste begunstigde van sy fortuin van R275 miljoen.