’n Britse tiener was so behep daarmee om die perfekte selfie te neem dat hy selfdood probeer het.

Danny Bowman (19) was net 15 toe sy obsessie begin. Hy het 10 uur per dag daaraan bestee om meer as 200 selfies met sy iPhone te neem. Soos sy verslawing vererger het, het hy ophou skoolgaan en meer as 12 kg afgeskud. Hy het ses maande lank nie sy huis verlaat nie.

“Ek het voortdurend die perfekte selfie nagestreef en toe ek besef ek kon dit nie bereik nie, wou ek sterf,” het Danny aan ’n Britse koerant vertel. “Ek is my vriende, opvoeding, gesondheid en amper my lewe kwyt. Al waaroor ek omgegee het, was dat ek my foon by my het sodat ek enige tyd van die dag ’n foto van myself kon neem.”

Toe hy nie daarin kon slaag om die perfekte selfie te neem nie, het hy selfdood deur ’n oordosis probeer. Sy ma, Penny, het hom gered.

Hy ontvang terapie vir sy tegnologieverslawing, obsessief-kompulsiewe steuring en liggaamsdismorfiese steuring (’n ernstige steuring oor liggaamlike voorkoms). “Danny se geval is taamlik ekstreem,” sê dr. David Veal, wat David sy verslawing help klop het. “Maar dit is ’n ernstige probleem; dit het nie met verwaandheid of ydelheid te doen nie. Dit hou verband met geestesgesondheid en het ’n uiters hoë selfdoodsyfer.”

Danny sê hy het in sewe maande nog nie ’n enkele selfie geneem nie. “Dit klink wel alledaags en onskadelik, maar dit maak dit juis gevaarlik. Dit het my amper my lewe gekos, maar ek het oorleef en is vasbeslote om my nooit weer in daardie posisie te bevind nie.”

-       Petro-Anne Vlok

Bronne: dailymail.co.uk, time.com, mirror.co.uk