Aanvanklike berigte het gedui op minstens twee wat beseer is tydens ’n skokkende skietvoorval Donderdag by ’n Franse hoërskool in Grasse. Sedertien het ’n woordvoerder vir die Franse minister van binnelandse sake bekendgemaak dat drie mense, waaronder die skoolhoof, tydens die voorval beseer is. "Ek het gesien hoe hy ons hoof skiet," sê Thomas, ’n leerder van die skool.

Ander nuusbronne dui aan dat minstens agt mense beseer is.

’n 17-jarige skoolseun is in hegtenis geneem. Hy was in besit van ’n geweer, ’n rewolwer, ’n pistool en twee handgranate. Volgens die nuusagentskap France 3 het ’n student navorsing op die internet gedoen oor skietvoorvalle by Amerikaanse skole.

Grasse, die parfuumhoofstad van die land, is sowat 44 km vanaf Nice.

Die skietvoorval het plaasgevind kort nadat 'n briefbom vroeër Donderdagoggend by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) se kantore in Parys ontplof het. ’n Vrou is tydens die ontploffing beseer.

Vroeër vandag

’n Skietvoorval Donderdag by ’n hoërskool in Grasse naby Cannes in Frankryk het tot dusver tot twee beserings gelei.

Berigte dui daarop dat tot drie gewapendes die Tocqueville-skoolgebou binnegedring het. Die polisie het inwoners gewaarsku om binnenshuis te bly terwyl die Franse regering ’n voorlopige terreur-waarskuwing uitgereik het. Een van die gewapendes, met verskeie vuurwapens by hom, het op die skoolhoof losgebrand. ’n Man is in hegtenis geneem en nog ’n persoon het voet in die wind geslaan.

Die BBC berig die skietery het tussen twee studente plaasgevind.

Frankryk verkeer steeds in ’n noodtoestand sedert die dodelike aanvalle in Parys (2015) en Nice (2016).