Dit gebeur nie aldag dat mens jou eie wonderwerk kan bewerkstellig nie.

Bespreek vir Skouspel!

Ene van monumentale formaat. Maar vandag kan jy. Jy kan stembus toe gaan in jou eie huis, in jou motor, in die koffiewinkel . . . en iets bydra wat ons land se naam op almal se lippe sal plaas én dit 'n broodnodige ekonomiese hupstoot sal gee.

Gebruik jou wysvinger en stem Tafelberg in as een van die sewe natuurwonders van die wêreld met die kliek van 'n muis of van daardie oorwerkte selfoon van jou.

En onmiddellik bevind jy jou ook in die geselskap van drie Nobel-vredespryswenners: Desmond Tutu, Nelson Mandela en F.W. de Klerk.

Sowat 2 500 jaar gelede is die sewe wonders van die antieke wêreld deur één man aangewys. Van daardie wonders het net een oorgebly: die groot piramide van Giza in Egipte.

Tog is daardie wonders steeds in die geheue van miljoene mense ingegrif. Dink net wat dit kan beteken as ons Suid-Afrikaanse ikoon die volgende 2 500 jaar lank in die bewussyn van die gemiddelde wêreldburger sou leef en lok.

Nou wat maak Tafelberg so spesiaal?

- Tafelberg is ses keer ouer as die Himalaja-bergreeks

- Tafelberg bevat meer plantspesies as die ganse Verenigde Koninkryk en dit vorm die hart van die Kaapse fynboskoninkryk, die enigste blommedomein in die wêreld wat binne die grense van slegs een land/provinsie aangetref word

- Die sterrekonstellasie Mensa is in werklikheid na dié berg van alle berge vernoem

- Boonop is Tafelberg die enigste finalis wat midde-in 'n polsende stad geleë is.

• Tafelberg is nie net 'n nasionale park nie, maar 'n wêrelderfenisgebied. Bykans 90% van die stemme wat reeds getel is, kom uit die internasionale arena. Nou moet ons Suid-Afrikaners van ons laat hoor!

• Tafelberg was die simbool van tuiskoms en vryheid waarna die gevangenes op Robbeneiland jaar in en jaar uit getuur en gehunker het. Deur die eeue heen was dit sy onkreukbare vastigheid wat talle uitgeputte seevaarders verwelkom het. Dit is dié berg waarteen ons land se ingewikkelde geskiedenis hom afspeel.

• Die feit dat oudpresidente Nelson Mandela en F.W. de Klerk asook aartsbiskop Desmond Tutu die veldtog steun, bewys dat die betekenis daarvan oor politieke, godsdienstige, kulturele en ideologiese grense heen strek en almal begeester.

• Beide die Proteas en die Springbokke, asook hul kapteins, het reeds hul steun gegee. Peter de Villiers het trouens gesê: “Ons belowe om die rugbywêreldbeker terug te bring as julle beloof om vir Tafelberg te stem.” Miskien is die feit dat jy dalk nog nie gestem het nie, die groot rede waarom die Beker nie teruggebring is nie.

HOE KAN JY STEM?

• SMS die woord “Tafel” of “Table” na 34874 (R2 – stem soveel keer soos jy wil)

• Stem op MXit (20 moolas, dws 20 sent – stem soveel keer soos jy wil)

• Gaan na www.votefortablemountain.com (gratis, slegs een maal)

• Facebook: Gaan na New7Wonders Facebook (gratis, slegs een maal)

Die spertyd vir stem is 11/11/11 om 11 minute oor 11 die oggend. Maar moenie eers ter elfder ure stem nie – doen dit NOU!