Volgens ooggetuies het die man langs ’n pad in Bridgemeade gestap toe hy inmekaarsak, skynbaar as gevolg van hitte-uitputting.

Ao. Alwin Labans, polisiewoordvoerder, het gesê die oorsaak van sy dood is nog nie vasgestel nie. ’n Geregtelike doodsondersoek is aangevra.

Daar het Woensdag hoë vlakke van ongemak in die provinsie geheers weens hoë temperature en humiditeit.

Volgens Garth Sampson, van die SA Weerdiens in die Oos-Kaap, het vlakke van ongemak teen 14:00 op verskeie dorpe en in stede oral in die provinsie tot bokant 100 gestyg.

Port Elizabeth het ’n snikhete 39°C ervaar, met ’n ongemaksyfer van 109. Die Weerdiens waarsku dat ’n ongemaksyfer van 110 ’n gesondheidsgevaar inhou.

Op Patensie en Uitenhage het die kwik tot 41°C gestyg en die vlak van ongemak tot onderskeidelik 104 en 109. Op Addo is die hoogste ongemaksvlak in die streek aangeteken: ’n maksimum temperatuur van 40 °C en ’n ongemaksvlak van 112.

Vlakke van ongemak op ander dorpe was: Port Alfred (103), Oos-Londen (100), Grahamstad (101), Graaff-Reinet (100), Queenstown (102), Mthatha (102), Cradock (100), Bhisho (104), en Fort Beaufort (106).

Volgens Sampson moes alle skoolsport op vlakke bo 100 gekanselleer word.

Bron: News24