Die voormalige 50/50-aanbieder Johann Botha is die Woensdagaand saam met sy beste vriend in ’n rooftog hier doodgeskiet.

Die staalveiligheidshekke van die restaurant was met Huisgenoot se aankoms bot toe en die twee polisiebeamptes in uniform en ’n speurder wat hier beeldmateriaal kom haal het, was al getuienis van die tragedie wat hier afgespeel het. 

Johann (53), ’n bekende vryskutvervaardiger vir die TV-program Carte Blanche en aanbieder van Pretoria FM se Sondagaandprogram Nagmusiek, het hier saam met die eienaar en sy beste vriend, “Swazi” Werner Pertchold, wat na verneem word in sy 70’s was, gekuier toe vier rowers – drie mans en ’n vrou – glo toeslaan. 

’n Polisiebron het vroeër aan Huisgenoot gesê een van die mans en die vrou was die vorige aand daar. Die kroegman het dit verdag gevind toe die man wou weet waar die toilet is. 

Volgens die bron het die rowers geld geëis, maar Swazi het glo geweier. Johann het toe gesê hy sal geld gee, maar die rowers het hom na bewering summier doodgeskiet voor hy dit vir hulle kon gee. 

Nadat Johann na bewering in die kop geskiet is, is Swazi in die bors geskiet. Die twee vriende het op die toneel gesterf. “Ek sou gisteraand saam met Johann en Swazi ’n dop kom drink, maar dit was te koud vir my,” het ’n verslae Michael Lingwood, ’n gemeenskaplike vriend van Swazi en Johann, vertel. 

Die Zebra Inn was Johann se gunstelinguithangplek en was skaars 3 km van sy huis in Kensington. 


Michael vertel hulle drie het mekaar gereeld ná ure by die Zebra Inn ontmoet waar hulle graag ’n potjie snoeker of skaak gespeel het.

Michael sê dit was nie die eerste aanval by Zebra Inn nie. Die vorige keer het ’n koeël Swazi rakelings gemis en is dit deur die agterste venster van die onderste vertrek. “Die koeëlgat van die vorige voorval is steeds daar,” vertel hy. Hy vertel Swazi was ’n sterk man. “Hy het die aanvallers die eerste keer oorweldig.” 

Dan vertel hy van Johann. “Hy was besig met ’n groot onthulling oor grondeise. Dit was ’n groot storie, die grootste grondeisstorie tot nog toe,” beweer hy. 
Michael sê Johann en Swazi het met een van Johann se ondersoeke bevriend geraak. “Johann is een van die talentvolste Suid-Afrikaners in die geskiedenis van die land.” 

Michael vertel die kroeg by Zebra Inn is nie vir die publiek oop nie. Dit het duur en waardevolle artikels binne. “Die wegneemetes het nie eens baie geld gemaak nie.”

Hy vertel van die honderde plate en boeke wat Swazi versamel het. “Hy het ook hier gebly,” vertel hy en wys na die middelvenster van die eerste verdieping. Swazi het ook al die Comrades gehardloop en was trots op sy medaljes. Michael het Swazi as rateltaai beskryf, iemand wat altyd gereed was om vir iets te veg.

Kapt. Kay Makhubela, Gautengse polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie het vasgestel daar was vier rowers – drie mans en ’n vrou. ’n Klag van sakeroof en twee aanklagte van moord word ondersoek. Hy sê twee vuurwapens en ’n onbekende hoeveelheid kontant is gebuit.