V e r p l e t t e r – met spasies tussen elke letter om sy gevoel van skok en magtelose hartseer uit te spreek.

Carl - screenshot

So het Carl Pistorius, ouboet van die lemnaeler Oscar Pistorius, sy absolute verslaenheid op sosiale media beskryf nadat die voormalige Paralimpiese held se stryd om sy status as moordenaar omgekeer te kry, gisteraand nek omgedraai is.

Oscar was eens die vergestalting van watter hoogtes iemand wat fisiek gestremd is, kan bereik, maar sedert hy drie jaar gelede op ’n noodlottige Valentynsdag sy modelmeisie, Reeva Steenkamp, doodgeskiet het, het dinge soos handomkeer vir hom verander.

En nou het die konstitusionele hof beslis dat hy nie mag appelleer nie teen die appèlhof in Bloemfontein se bevinding dat hy aan moord – en nie strafbare manslag nie – skuldig is.

Vyftien jaar tronkstraf staar Oscar nou in die gesig. “Ek het jou gevra om my nie te bel nie. Het jy nie ’n siel nie; hoe kan jy nie ’n mens in so ’n tyd respekteer nie; is jou loopbaan al waaraan jy kan dink?” het Oscar volgens die Times in ’n SMS aan ’n joernalis gesê wat hom gisteraand om kommentaar genader het. Carl, Oscar en hul kleinsus, Aimée, is al van kleins af ontsettend na aan mekaar en het moeilike tye saam deurgemaak ná ma Sheila en pa Henke se egskeiding en hul ma se dood in 2002. Op Oukersaand verlede jaar het Carl juis op sosiale media geskryf dat hy Sheila se ou lasagneresep vir ’n familie-ete inspan.

Of dié kinders egter gou weer saam Kersfees sal vier, is tans onduidelik. Oscar moet op 18 April in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria verskyn vir verrigtinge om sy lot te bepaal.

– Almari Wessels

Lees ook op Huisgenoot.com:

Kyk: ‘Ons wil die beste in die wêreld wees’ – sê Stormers-kaptein oor sy span se Superrugby-kanse

Hierdie vrou is verskriklik fiks – en boonop 36 weke swanger!

Munisipale verkiesing 2016: Registreer so dié naweek

Van ‘plasentadrankies’ tot kriekmeel: Dié is die vreemdste kosgiere waarvan jy moet weet