’n Italiaanse verpleegster is in hegtenis geneem nadat sy na bewering 38 pasiënte met ’n dodelike inspuiting vermoor het omdat hulle haar “irriteer” en hul familielede “opdringerig” was.

Volgens berigte in ’n Italiaanse koerant, die Libero Quotidiano, het Daniela Poggiali dit selfs verder gevoer en glo ’n selfie met ’n pasiënt geneem oomblikke nadat sy hulle vermoedelik vermoor het.

Die 42-jarige vrou is in aanhouding nadat ’n 78-jarige pasiënt vroeër vanjaar onder verdagte omstandighede onder haar sorg gesterf het. By verdere ondersoek het die polisie gevind 37 ander pasiënte in haar sorg het in die verlede onder vreemde omstandighede gesterf, berig internasionale koerante.

Die verpleegster word op aanklagte van moord aangehou. Die voorvalle het glo by ’n hospitaal in die noorde van Italië gebeur.

Daniela is die naweek gearresteer nadat die 78-jarige Rosa Calderoni in April vanjaar met gevaarlike hoë vlakke kaliumchloried in haar liggaam in die hospitaal gesterf het. Twee ander pasiënte in Daniela se sorg is dieselfde dag oorlede.

Ondersoekers beweer die verpleegster het die beweerde moorde gepleeg omdat sy ’n wrok gekoester het teen “irriterende pasiënte en hul opdringerige familielede”.

Die owerheid vermoed Daniela het die pasiënte met ’n dodelike dosis kaliumchloried ingespuit om ’n hartstilstand te veroorsaak.

Die verpleegster het die aanklagte ontken, maar beamptes beweer sy het gefrustreerd geraak omdat die pasiënte ekstra sorg nodig gehad het en hul familielede opdringerig was. Wanneer die familielede se eise haar begin irriteer het, het sy die pasiënte na bewering met ’n dodelike dosis van die kaliumchloried stilgemaak.

Die Italiaanse koerant Corriere della Sera het een van Daniela se kollegas aangehaal; hulle het gesê wanneer pasiënte te veeleisend geraak het, sou Daniela altyd sê: “Laat dit aan my oor; ek sal hulle stilmaak.”

Een van die oorlede pasiënte is blykbaar ook ’n familielid van die hospitaal se direkteur van verpleging – en volgens berigte het Daniela en haar baas nie langs dieselfde vuur gesit nie. Dié dood word ook ondersoek.

- Danel Blaauw

Bronne: Huffington Post, Times