Eva is onlangs gekies om deel te wees van ’n innovasie-genootskapprogram in die stad van liefde, al word dié program gewoonlik grootliks vir doktorsgraadstudente aangebied.

Een van die stigterslede van die organisasie wat die program reël, Kat Borlongan, het ’n ope brief aan die jong Eva op Facebook geskryf wat dié jongeling se inspirerende verhaal soos ’n veldbrand oor die internet laat versprei het.

Kat begin haar brief deur te vertel Eva, wie se van nie bekendgemaak is nie, het aansoek gedoen vir die genootskapprogram vir gesoute ontwerpers en doktorsgraadstudente omdat sy gevoel het “die strate van Parys is te hartseer”.

“Ek wil ’n robot bou wat mense weer gelukkig gaan maak,” het Eva in haar aansoek geskryf. “Ek het reeds kodering begin leer, maar ek sukkel om dit te laat werk,” het sy verder verduidelik. “Ek wil graag by jul program aansluit sodat die mentors my kan bystaan.”

So oorbluf was Kat deur Eva se aansoek, sy het ingestem en Eva tot die program verwelkom.

“Ek is mal oor jou projek en stem saam dat ons meer moet doen – met behulp van robotte en ook ander maniere – om Parys se strate te verbeter en mense weer te laat glimlag,” skryf sy in die ope brief.

Op haar blog verduidelik die jong meisie sy wil graag klein robotte bou wat met bordkryt die strate van Parys met tekeninge sal versier.

Hierdie onbaatsugtige houding het Kat geïnspireer.

Sy skryf: “Niks op die webtuiste het gesê die program is oop vir 10-jariges nie, maar soos jy seker ook gesien het, was daar niks wat gesê het dit is nie oop nie.”

Kat sê sy hoop Eva se werk met robotte sal meer jong meisies aanmoedig om kodering te leer en dapper genoeg te wees om hulp te vra as hulle vasbrand.

“Jy vertel openlik jy sukkel om jou robot op jou eie te laat werk en dat jy hulp nodig het. Dit was dapper om te erken. Dit het ons oortuig om jou vir die projek te aanvaar,” lui Kat se brief verder.

“Nederigheid en die bereidwilligheid om te leer om verder as jou huidige beperkings te gaan, is die hart en siel van innovasie.”

Die brief, wat sowat ’n week gelede op Facebook gedeel is, is al meer as 40 000 keer gedeel.

Onderaan die brief het Kat bevestig dat sy in kontak met Eva se pa was en vertel hoe trots hy op sy dogter is.

Die program begin op 18 Julie en sal 11 dae duur.

Bronne: Facebook; summerfellows.paris; corot.top