Jy weet goed hoe magteloos ’n mens voel wanneer daar nie genoeg parkeerruimtes beskikbaar is nie.

Soms ry jy ’n paar keer om die blok terwyl jy bly hoop iewers sal ’n plekkie oopgaan dat jy daar kan stilhou.

Dis natuurlik baie erger wanneer jy laat is vir ’n belangrike afspraak en al die parkeergode is teen jou . . .

Een vrou in China het die perfekte oplossing vir enige parkeerprobleem. Na gelang van hoe jy haar vernuftige plan beskou, kan jy dink dis baie maklik of baie arrogant en waaghalsig.

Boonop lyk dit of sy menige al met die grootste gemak geflous het.

Wat doen sy? Sy neem haar eie parkeerruimte en parkeerteken saam waar sy ook al gaan.

In ’n video kan ’n mens sien hoe die vrou houtgerus na haar geparkeerde motor stap, ’n entjie vorentoe ry en haar kattebak oopmaak. Dan buk sy, rol haar “parkeerruimte” op en plaas dit in die kattebak.

Nes jy dink dis dit, sien jy haar na die paal neffens haar voertuig beweeg. En kyk net so: Daar haal sy so wrintie haar eie persoonlike parkeerteken van die paal af.

Geen parkeerkaartjies, geen kommer.