Buiten die enorme brandskade aan die Tsitsikamma Cattle Baron-restaurant, het die vernietigende brand ook regstreeks 'n invloed op die toerismeseisoen wat voor die deur lê.

Nandi Mgwadlamba, woordvoerder vir SA Nasionale Parke, het gesê dat die Tsitsikamma-deel van die Tuinroete Nasionale Park wel nie regstreeks deur die brand geraak is nie. Maar die brand het die die park se inkomste afkomstig van Desember-toerismevloei wel 'n gevoelige slag toegedien. Tot voor die vernietigende brand wat die restaurant in puin gelaat het, was 'n gedeelte van die restaurant se inkomste oorbetaal aan die park.
Daar word egter intussen die moontlikheid ondersoek om tydelike strukture op te rig wat die restaurant en die winkel kan akkommodeer. Nandi het gesê dat die park-personeel onmiddellik hand bygesit het om die brand onder beheer te help bring. 'n Helikopter is ook ingespan om te keer dat die brand na die naasliggende beboste area versprei.
Die res van die park is nie deur die brand geraak nie. Besoekers kan steeds die gewilde hangbrug oor die riviermond gebruik.

Die uitvoerende hoof van FreshSold Boerdery en Landbou, Philip Muller, het gesê die brand het ook 'n vernietigende invloed op die plaaslike besigheidsektor.

"Tsitsikamma Cattle Barons was die grootste en een van die gewildste restaurante in die gemeenskap. Dis nie net 'n skok en 'n verlies vir die werkgewers en -nemers nie, maar ook vir die gemeenskap en omliggende dele," het hy gesê.

Bron: news24.com