Sy het in ’n huis grootgeword waar haar ma haar broers skaamteloos voorgetrek het. Daarom het sy nooit gedink sy sal self een van dáárdie ma’s word nie. Maar vandag erken Melanie le Grange*, ’n 37-jarige ma van Kaapstad, ruiterlik: “Ek vind dit baie moeilik om my liefde gelykop tussen my kinders te verdeel. Ek moet erken ek is gehegter aan my seun en dit maak my seer om dit te sê.”

Baie ouers sal hoog en lag sweer hulle het geen gunsteling in hul kroos nie. Party sal van die idee wegskram en dit selfs as onmoontlik afmaak. Tog voel baie ouers nader aan ’n bepaalde kind as aan die ander en dit laat hulle wanhopig en skuldig voel – want hoe kan hulle dan een kind liewer as die ander hê?

Tog sê kenners voortrekkery is ’n algemene verskynsel in gesinne al ontken meeste ouder dit. Maar nie Melanie nie. “Dalk is dit omdat ek meer besorg is oor hom as die jongste. Hy het op sy ouderdom baie aandag nodig. My dogter, aan die ander kant, veroorsaak baie stres vir my. Sy begin nou volwasse word en dit veroorsaak spanning in ons verhouding.”

Melanie sê haar dogter is traag om in die huis te help en is nie uis ’n liefdevolle kind nie. “Ek voel minder gestres wanneer ek by my seun is. Ek hoef minder moeite met hom te doen en daarom wil ek meer tyd saam met hom deurbring.”

Melanie is bang dit is nie net ’n verbygaande fase nie en probeer haar dogter steeds aandag en liefde gee. Sy is bekommerd oor die uitwerking wat dit in die toekoms op haar kan hê, juis omdat haar eie ma haar broers voorgetrek het. Sy sê sy is dankbaar haar man gee ewe veel aandag aan hul twee kinders.

Maar sy is nie ál ouer wat met die probleem worstel nie. ’n Onlangs Britse peiling wys 16 persent van ma’s verkies een kind bo die ander, en weet dikwels self nie waarom nie.

Wanneer is dit voortrekkery?

As jy ’n kind het wat meer voorregte as die ander geniet, minder gedissiplineer word, wat jy meer dikwels verdedig en vir wie jy meer tyd en aandag gee, is dié jou gunsteling, sê Sinette van Rooy Booysen, ’n kliniese sielkundige van Durban. Ouers kan dalk in verskillende fases een kind voortrek en dan weer ’n ander, na gelang van hoeveel aandag ’n kind in verskillende ontwikkelingsfases nodig het.

Wanneer is voortrekkery ’n probleem?

Voortrekkery word eers werklik ’n probleem wanneer dit deurlopend raak en die manier waarop die kinders behandel word, drasties verskil. Kenners sê ouers moenie sleg voel as hulle ’n gunsteling het nie, want dit is heel natuurlik en die oorsake is uiteenlopend. Ouers kan kinders nie op dieselfde manier liefhê nie, want geen twee kinders is identies nie, sê dr. Ellen Weber Libby, ’n Amerikaanse kliniese sielkundige en skrywer van The Favorite Child. “Elke kind se individuele persoonlikheid kweek ’n unieke liefde vir hom of haar. “Wie ons is, is in ’n groot mate geneties bepaal, en baie kinders lyk en tree van hul geboorte af meer soos die een ouer as die ander op. Die ooreenkomste ontlok ’n natuurlike toegeneentheid (as ons van onsself hou) of afkeer (as ons nie van onsself hou nie) tussen ouer en kind,” verduidelik sy.

Ellen sê as ouers een kind bo die ander verkies, is dit gewoonlik onbewustelik. “In reaksie daarop kan dit gebeur dat een kind minder veeleisend is of beter saamwerk,” verduidelik Hanita Prag, ’n kliniese sielkundige van Port Elizabeth.

DIt kan ook vir vroue moeiliker wees om ’n band met hul oudste kind te smee as hul eerste ervaring van moederskap vir hulle moeilik was. Ouers vind dalk ook makliker aanklank by kinders van dieselfde geslag of byvoorbeeld dié met die atletiese vaardighede waarvan ’n ouer gedroom het.

Wat is die gevolge van voortrekkery?

Die neiging om ’n witbroodjie te hê kan na die kinders se volwasse lewe oorgedra word wanneer ouers dalk kinders voortrek wat nader woon, dieselfde waardes het of hulle finansieel help. ’n Gunstelingkind vervul ’n behoefte vir ’n ouer of vul ’n leemte en word met beter behandeling beloon. Maar daar moet steeds aan die probleem gewerk word. Want die gevolge kan vernietigend wees – nie net vir die kind wat aan die kortste ent trek nie, maar ook vir die witbroodjie.

“Die kind wat nie voorgetrek word nie asook die gunstelingkind se emosionele welstand kan albei daardeur geraak word,” waarsku Sinette. “Dit kan nou en in die toekoms tot angstigheid en depressie en ook gedragsprobleme lei.”

Sy sê die kind wat afgeskeep word, sal waarskynlik gevoelens van minderwaardigheid, woede, onsekerheid, onbevoegdheid en ’n lae selfbeeld ontwikkel. En al kan die witbroodjie dalk meer beskut en geliefd voel, sal hul broers of susters se jaloesie hulle steeds pla en hulle kan dalk ’n groter verpligting teenoor die ouers voel.

Gunstelingkinders kan ook op sosiale gebied onsekerder van hulself voel, omdat hulle weens verpligtinge teenoor hul ouers minder buite die huis sosialiseer, sê Sinette.

Hanita sê die witbroodjie sal meer wedywering van sy sibbe ondervind weens jaloesie omdat hulle nie soveel goedkeuring van hul ouers geniet nie.

“Gunstelingkinders kan glo dit is hul reg om altyd te kry wat hulle wil hê en op die ou end uiterste skuldgevoelens ontwikkel wanneer hulle besef hulle is die een wat meer as die ander kinders gekry het,” sê sy.

Hulle soek dalk op ander maniere na die aandag wat hulle van ander lede van die gesin nodig het, soos om hul toevlug tot bendes of dwelms of drank te neem, voeg Hanita by.

Met sulke rampspoedig gevolge is dit belangrik dat ouers nie hul oë vir die probleem van voortrekkery sluit nie, maar moeite doen om dit op te los voor dit te laat is.

Maak ’n einde daaraan

“Moenie die gevoel ignoreer as jy soos Melanie vermoed jy trek een van jou kinders voor nie,” waarsku Sinette. “Erken jou voorkeur vir ’n kind – kinders sal jou dikwels daarop attent maak deur hul reaksie op jou en op die kind wat voorgetrek word,” sê sy. Sy beveel aan ouers moet die eenvoudige stap doen deur meer gehaltetyd individueel en gesamentlik met al hul kinders deur te bring.

“Kinders moet geliefd voel en gehaltetyd saam is een van die grootste dinge wat tot hierdie gevoel bydra.”

Sy sê as jy regtig sukkel, moet jy dalk professionele hulp kry. Maar voor jy dit doen, neem ’n blaaskans en laat die kind wat jy afskeep, meer tyd deurbring saam met ’n ander belangrike mens in hul lewe met wie hulle goed oor die weg kom, soos ’n grootouer, tante of peetouer. Dan kan hulle hul selfvertroue opbou, terwyl jy ’n plan bedink oor hoe om die situasie te hanteer.

Ma’s en pa’s moet tyd inruim om hul kinders as individue te leer ken en die positiewe aspekte van hul persoonlikhede te ontdek, sê Hanita. “Nie alle talente ontwikkel vroeg of kom in hul positiefste vorm na vore nie. ’n Kranige videospeletjiespeler met min of geen belangstelling in sport kan byvoorbeeld ’n speletjieontwerper of rekenaarspesialis word of ’n ander beroep in daardie rigting volg,” sê Hanita.

“Alle kinders het baie aandag en aanmoediging nodig om hul bes te lewer en die lewe te geniet en hul drome na te streef.

“Die kind wat dit nie kry nie omdat meer aandag aan sy broer of suster geskenk word, kan negatief daardeur beïnvloed word,” sê Hanita.

Sy sê as al die kinders in die gesin gelyke behandeling kry, sal dit hulle gemoedsrus en bestendigheid gee wanneer hulle die volwasse lewe betree. Baie volwassenes dra steeds die letsels daarvan dat hulle as kind ter wille van die witbroodjie in die gesin afgeskeep is. Hanita sê sulke volwassenes moet sielkundige hulp soek.

“Selfbeeld en selfwaarde sal die hoofkwessies wees wat tydens  die terapie behandel sal word. Hulle sal hanteringsmeganismes geleer word om hul negatiewe  persepsies oor hulself te verander deur die positiewe bevestigings aan te leer waarsonderhulle dalk moes grootgeword.”

En alles kon soveel eenvoudiger gewees het as hul ouers jare gelede besef en erken het hulle trek party kinders voor en skeep ander af . . .

*Skuilnaam.

- Kim van Reizig

Ekstra bronne: www.guardian.co.uk, www.psychologytoday.com, www.huffingtonpost.com, www.dailyrecord.co.uk, www.familymagazinegroup.com