Die N1 sal dié naweek tussen Old Oakweg en die R300-wisselaar gesluit wees vir die veilige sloping van 'n deel van die Old Oakbrug, sê die Wes-Kaapse department van vervoer en openbare werke. Swaar verkeer word op alternatiewe roetes in die onmiddellike omtrek verwag.

Daarom word motoriste aangeraai om liewer die padsluiting te vermy deur die oordeelkundige gebruik van Kaapstad se snelwegnetwerk: N1 - M5 - N2 - R300 uit die stad uit, en N7 - N2 - R300 in die stad in.
Die gebruik van die N2 en R300 om die N1-sluiting te vermy sal jou rit sowat 15 km en 10 minute langer maak. Die alternatiewe roetes in die onmiddellike omgewing sal wel net 8 km by jou rit voeg, maar minstens 'n halfuur langer duur, en moontlik tot 'n uur langer in spitstye.
Die Brackenfell Boulevard- en die Okavangowegbrug kan ook gebruik word om die sluiting te vermy, maar verkeersknope word ook dié naweek daar verwag. Inwoners van die Bellville en Durbanville word aangemoedig om die N1 met Bill Bezuidenhoutweg oor te steek.

Navrae en klagtes kan gerig word aan die Cape Town Freeway Facebook-blad, i-Traffic se webtuiste (www.i-traffic.co.za) en Twitter @CapeTownFreeway.