Sheila von Wiese Mack (62) se liggaam is verlede week in ’n reistas in die kattebak van ’n huurmotor voor ’n spoghotel in die eksklusiewe Nusa Dua-oordgebied gekry.

Haar aangenome dogter en dié se kêrel, wat saam met haar daar was, is in hegtenis geneem vir die moord en kan die doodstraf opgelê word as hulle skuldig bevind word aan moord met voorbedagte rade.

Die polisie het gesê die lyk is Dinsdag op ’n oornagvlug na Amerika gebring. Die slagoffer se dogter, Heather Mack (19), en haar kêrel, Tommy Schaefer (21), is verdagtes in die saak en word op die eiland aangehou.

Hulle is ’n dag ná die moord by ’n hotel in ’n ander deel van Bali in hegtenis geneem. Die slagoffer en verdagtes kom van Chicago. Die polisie sê hulle het sterk bewyse teen die paartjie wat in aanhouding is, en die FBI het ’n agent gestuur om met die ondersoek te help.

Ingevolge die Indonesiese regstelsel sal hulle eers formeel aangekla word wanneer hulle aan die begin van die saak in die hof verskyn. ’n Amerikaanse prokureur wat Heather verteenwoordig, het gesê sy kliënt is onskuldig. Hy beweer sy is aangerand in die tronk en is twee maande swanger.