“Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte,” was sy boodskap aan Hannah se ouers.

“Ons is hier om Hannah te onthou, daardie betowerende glimlag. Sy kon net so jou houding met ’n glimlag verander,” het hy gesê.

Hy onthou hoe Hannah hom gevra het of haar broer, Driesie, hemel toe sou gaan. Hy is outisties. Volgens Van Heerden was dit tipies van Hannah, iemand wat altyd omgegee het en oor ander bekommerd was.

Sy het ook aan hom die wens uitgespreek dat sy altyd ander mense sal wil help.

Hannah het net 1,8 kg geweeg toe sy op 12 Februarie 1996 gebore is. Haar oupa, Johannes de Villiers, se wiegeliedjie wat hy vir Hannah met haar geboorte geskryf het, is tydens die gedenkdiens gespeel.

’n Paar mense is toegelaat om ’n kort huldeblyk aan Hannah te lewer.

Lali van Zuydam, Hannah se niggie, het haar soos volg beskryf: “Sagmoedigheid, liefde, lig, warmte, menslikheid, intelligensie, kreatiwiteit – ons hou vas aan wat sy tot ons lewens toegevoeg het.”

Famelo, Hannah se skoolmaat en vriend, vertel hy het Hannah sewe jaar gelede op skool ontmoet. Sy het na hom gekyk en hy het gedink: “Sy kan eendag my vrou wees.”

Die twee het begin gesels, en daardie gesprek het nooit tot ’n einde gekom nie.

“Ek het die volgende maand soveel keer as moontlik verby die biblioteek geloop, huiswerk begin doen en voorgegee ek lees. Toe vind ek uit Hannah het glo dieselfde gedoen.”

Hannah het hom glo altyd gevra wat hy in haar sien en hoekom hy volhard teen alle struikelblokke in om die vriendskap te behou.

“Sy was ongelooflik mooi, ek kon soms net na haar kyk en nie eens na haar luister nie. Sy het die ongelooflikste glimlag gehad. Sy was onselfsugtig, sy was onskuldig en nuuskierig. Sy het haarself nooit as ’n grootmens beskou nie, bloot as ’n kind.”

Jacqueline Catterson, een van Hannah se beste vriendinne, onthou haar so: “Sy’s nie kwaad nie, sy’s nie bitter nie, sy’t vrede – sy’s nie weg nie, sy het net van adres verander. Hannah se lewe was ’n geskenk. Elke oomblik saam met haar was ’n seën.”

In ’n huldeblyk voorgelees namens Jessica Minarro, ’n vriendin wat in Switserland woon: “My ma het nooit soveel gelag gehoor soos wanneer jy by my in Switserland kom kuier het nie. Jou lewensvreugde sal ek nooit vergeet nie.”

Vroeër vandag

Hannah se ouers, Willem en Anna Cornelius, arriveer by die gedenkdiens.

Talle van die rouklaers het met wit rose opgedaag. Adv. Pieter Botha, Henri van Breda se regsverteenwoordiger, het ook die diens bygewoon.

’n Groep motorfietsryers het as huldeblyk na afloop van die diens by die kerk verbygery.