“Soms praat ek met my seun, dan hoor hy nie ’n woord wat jy vir hom sê nie. As sy gehoor nie terugkom nie, moet ons dalk ’n gehoorapparaat vir hom kry en hoop dit werk,” vertel Marilyn Marsh, Cheslin se ma.

Hannah en Cheslin is die oggend van Saterdag 27 Mei in Birdstraat, Stellenbosch, gekaap waar hulle in haar blou VW Citi Golf voor ’n woonstelblok gesit het.

Cheslin is in die voorval ernstig aangerand en Hannah is verkrag en vermoor.

Haar lyk is kort ná 08:30 op die plaas Groenhof naby die Knorhoekpad buite Stellenbosch gekry.

Die vier verdagtes – Vernon Witbooi, Geraldo Parsons, Nashwill Julies en Eben van Niekerk –verskyn op 28 Julie in die landdroshof op Stellenbosch op aanklag van moord, poging tot moord, motordiefstal, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en verkragting.

Marilyn sê Cheslin sukkel nog om die trauma van daardie dag te verwerk.

“Ek weet nie hoe hy gaan voel wanneer hy die beskuldigdes se gesig vir die eerste keer ná daai aand weer gaan sien nie. Dit gaan vir hom erg wees, ek weet,” sê sy.

Cheslin was ten tyde van die voorval ’n teologiestudent in sy eerste jaar aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het daarna besluit om sy studies vir eers halt te roep en kuier tans by familie in Port Elizabeth.

“Hy wou net wegkom van alles hier,” vertel Marilyn.

“Soms kan ek sien hy trek swaar. Een dag kan jy met hom gesels oor wat daardie aand met hom en Hannah gebeur het; die volgende dag is hy in ’n heel ander wêreld en raak hy geïrriteerd as jy hom te veel vrae vra.”

Benewens die skade aan sy linkeroordrom het Cheslin se linkerarm het ook ’n lelike breuk opgedoen.

Hy ondergaan tans sielkundige berading en kry fisioterapie om die volle gebruik van sy linkerarm terug te kry.