Yvonne Caylor (53) wou hê haar halfsuster, Nicola Collingbourne (26), moet ’n klag van inbraak teen haar laat vaar. Nicola wou nie, maar sy sou eindelik met haar lewe boet.

Op 24 Mei vanjaar is Nicola, beter bekend as Nicki, se bebloede lyk gevind in haar woonstel in Letchworth, ’n dorp in Hertfordshire, England. Sy is die vorige oggend reeds vermoor.

Woensdag is haar halfsuster as ’n verdagte vir die moord in hegtenis geneem, en op 20 Desember is Yvonne skuldig bevind aan die moord op Nicola.

Aanvanklik het die polisie gesoek na ’n groterig geboude man in ’n glimbaadjie. Die mens is glo twee keer voor die moord naby Nicki se woonstel gewaar.

Boonop kan op die veiligheidskamera se beeldmateriaal gesien word hoe iemand wat soortgelyk geklee is op die dag van Nicki se dood aan haar woonsteldeur klop.

Die polisie het snuf in die neus gekry toe Yvonne se bloed op verskeie van Nicola se besittings in die woonstel gevind is.

Toe begin die legkaartstukke in plek val. Terwyl die polisie Yvonne ondervra het, het hulle opgemerk sy het ’n brandmerk aan haar duim. Yvonne het gesê sy het dit daardie afgelope Sondag opgedoen, die dag voor Nicola vermoor is.

Sy het glo ook aan die polisie gesê  sy wou die wond laat behandel, want dit bars oop elke keer dat sy iets vasvat.

Yvonne het die polisie probeer oortuig haar bloed het dalk agt maande tevore reeds op ’n kraan en die bad beland. Haar verduideliking is egter as onmoontlik bestempel.

Wat wel gebeur het, is dat Yvonne die glimbaadjie as deel van ’n kru vermomming ingespan het. Sy het ook ’n pruik, bokkebaard en bril gebruik om haar verder te vermom.

Nicki het vermoedelik haar halfsuster, wat sy glo in Oktober verlede jaar uit haar woonstel geskop het, herken en wou keer dat sy inkom. Maar Yvonne, ’n sweiser van beroep, is sterk en was groter as Nicki.

Die deur is oopgedwing en Nicki brutaal aangeval. Ná die moord is die woonstel binne sowat drie uur  opgeruim en Nicki se moord is na selfdood laat lyk.

Familielede het die volgende dag  op haar bebloede lyk afgekom.

“Dit was ’n grusame en ontstellende gesig,” het John Price QC, vir die staat, gesê.

Nicki was in haar onderklere geklee en om haar kop was ’n groot plas bloed. Haar gewrigte het diep snye gehad, maar dis nie deur Nicki self toegedien nie.

Gebreekte glasstukke het rondgelê - die oorblyfsels van die kasserol. Volgens John is twee hande gebruik om die pot op haar kop flenters te slaan.

Hoekom het Nicki Yvonne in Oktober 2015 uitgeskop?

Tydens ’n rusie het Yvonne glo Nicki se iPad stukkend gegooi. Volgens Nicki se getuienis destyds het sy Yvonne vergeefs probeer kalmeer.

“Sy het ál erger geraak en haar vuiste ingespan. Sy het my teen die muur vasgedruk en gesê: ‘Ek gaan jou doodmaak.’”

Yvonne het teruggekap en gesê Nicki raak aggressief wanneer sy nie haar sin kry nie. Sy het Nicki glo teen die muur vasgedruk omdat laasgenoemde nie haar medikasie geneem het nie en wild te kere gegaan het.

Toe Nicki weer na haar woonstel teruggekeer, is daar by haar plek ingebreek. Yvonne is aangekla van inbraak en regsverydeling.

Yvonne beraam steeds planne

Tydens die hofsaak het dit ook bekend geword dat Yvonne glo ’n medegevangene wou omkoop om ’n plek aan die brand te steek sodra sy (die medegevangene) uit die tronk vrygelaat sou word.

Yvonne sou ’n balletjie watte met haar bloed en hare aan die vrou gee. Dit moes by die plek gelaat word sodat dit kamma kon bewys iemand wou Yvonne aan die pen laat ry vir Nicki se dood. Yvonne het die vrou glo ook gevra om dieselfde vermomming te gebruik as wat met Nicki se moord ingespan is.

Bronne: thecomet.net, dailymail.co.uk, hertfordshiremercury.co.uk, itv.com. bbc.co.uk