Johannesburg – Die liggaam van ’n 14-jarige leerder van die Duitse skool in Westcliff is gevind net ’n paar uur nadat ’n boodskap op Facebook gedeel is dat sy vermis word.

’n Foto van die tiener is Dinsdagaand op Facebook gedeel nadat sy nie ná skool huis toe gekom het nie. Daarby is geskryf: “My vriendin Liesl Göttert se 14-jarige dogter, Klara Göttert, het nie vandag (Dinsdag 11 Augustus 2015) ná skool huis toe gekom nie. Hulle soek nou na haar. Deel asseblief hierdie boodskap selfs al ken jy hulle nie.”

Nog ’n boodskap het gelui: “Hulle woon in Westcliff, Johannesburg, en sy is steeds nie by die huis nie.” ’n Foto van haar, ’n beskrywing van hoe sy lyk en haar ouers se kontakbesonderhede was hierby ingesluit.

Woensdag het die polisie in Gauteng bevestig Klara het haar by die Northgate-inkopiesentrum doodgeval, maar haar tannie het in ’n Facebook-inskrywing daarop gesinspeel dat sy haar eie lewe geneem het. ’n Plaaslike koerant het ook berig dit was selfdood.

Maj. Mack Mngomezulu het Woensdagoggend gesê: “Sy het gister soos altyd skool toe gegaan, maar nooit teruggekeer nie. Haar ma het haar by die polisie as vermis aangemeld, en sy is later die dag by die Northgate-inkopiesentrum gevind. Sy het glo van die boonste vloer geval.”

Haar liggaam is tussen 19:00 en 20:00 gevind. “Sy het haar skoolklere aangehad en haar skoolsak is by haar gevind. ’n Nadoodse ondersoek word gedoen,” sê die polisie.

Klara se familie het vroeg Woensdagoggend bevestig sy is dood. H

'Die donkerste dag'

“My pragtige susterskind Klara Lynette Göttert het vandag gesterf. Dit was die donkerste dag wat ons nog ooit beleef het, en ons gaan hierdie saggeaarde, liefdevolle siel baie mis. Die lewe het te veel vir haar geraak, en dit lyk of sy nie ’n uitkoms kon sien nie,” het haar tannie Yolande de Klerk op Facebook gedeel. “Dis ’n baie moeilike tyd en ons waardeer jul gebede en liefde en dat julle aan ons dink.”

Liesl het slegs op Facebook gedeel: “My dogter Klara (14) het vanaand gesterf.”

News24