Sy vrou, Michelle, het Woensdagmiddag vir Huisgenoot laat weet dat Paul in Kaapstad opgespoor is.

“Dit is ’n groot verligting vir ons,” sê Michelle.

Paul het Maandagoggend sy huis in Radiokop verlaat om werk toe te gaan, maar hy het nooit opgedaag nie.

Michelle en haar familie was siek van bekommernis en het hospitale gebel om te hoor of daar nie ernstige ongelukke was nie.

Paul het glo die oggend van sy verdwyning geld by ’n kitsbank getrek.

“Hy het Woensdagmiddag sy suster, Vera, wat in die Kaap bly, gebel en gesê hulle moet iewers ontmoet,” vertel Michelle wat gebeur het.

Vera kon egter nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

“Ons weet nog nie wat die rede is vir sy besluit om sonder enige woord Kaap toe te gaan nie. Volgens sy suster klink dit of hy deur baie stres en emosioneel is.

“Ons wil vir hom professionele hulp kry,” voeg sy by.

Volgens Michelle het Paul geen tekens getoon dat hy die pad wil vat nie.

“Ons het nog Saterdagaand by ’n braai beplan dat ons een of ander tyd Clarens toe wil gaan.”

Paul is steeds by sy suster in die Kaap.