Zephany Nurse, wat 17 jaar gelede uit die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad ontvoer is, is gevind, het Beeld op Vrydag berig.

Die vrou wat haar grootgemaak en na bewering ontvoer het, is deur die Valke in hegtenis geneem nadat daar DNA-toetse gdoen is. Sy verskyn vandag (Vrydag) in die Kaapstadse landdroshof.

Volgens die berig het die Nurse-egpaar se tweede dogter, wat vier jaar ná Zephany se verdwying gebore is, vanjaar graad ses by ’n skool in Kaapstad begin toe klasmaats vir haar sê daar’s ’n meisie in matriek wat nes sy lyk.

Die twee meisies het vriende geword en die jonger meisie se pa het later voorgegee hy wil sy dogter se nuwe vriendin ontmoet. Toe hy sien hoe baie die twee meisies na mekaar trek, het hy die polisie genader. Hulle het die ouer meisie se ouers ondervra, maar kon geen geboorterekord kry volgens die inligting wat deur die ouers aan hulle verskaf is nie.

Die polisie het toestemming gekry om DNA-toetse te laat doen, wat bevestig dat sy inderdaad Zephany Nurse is. ’n Persoon na aan die familie het gesê daar was ’n paar emosionele oomblikke toe die meisie uitvind die mense wat haar grootgemaak het, is nie haar biologiese ouers nie.

- Sapa