Hy is honger, uitgeput en verskrik, maar veilig en terug by sy ouers.

Hy het vyf dae lank in die digte woud, wat onder meer deur bere bewoon word, oorleef en glo net dun klere aangehad. Die seuntjie, wat van ’n dorpie in die bergagtige noorde van Japan is, se ouers het hom verlede Saterdag afgelaai omdat hy glo stout was en mense en karre met klippe gegooi het. Sy ouers het ’n ent aangery “om hom ’n bietjie skrik te maak”; toe hulle omdraai en terugkeer na waar hulle hom afgelaai het, was hy skoonveld.
’n Uitgebreide soektog het gevolg en die seuntjie is vanoggend by ’n militerêre basis naby die woud gevind. Dit is sowat 5 km van waar hy laas gesien is. Sy ouers het aanvanklik aan die polisie gesê hul seun het vermis geraak nadat hy groente in die woud gesoek het, maar het later erken hulle het hom afgelaai en verlaat. “My oordadige gedrag het daartoe gelei dat my seun ’n uitmergelende tyd moes deurmaak,” het die seun se pa aan die media gesê nadat hy gevind is. Die seuntjie is glo gevind waar hy tussen ’n hoop matrasse by die basis lê.

“Ons het te ver gegaan.

“Ek vra nederig verskoning vir die mense by sy skool, die mense in die soekspan en almal vir wie ons moeilikheid veroorsaak het. Ek het my seun met liefde hanteer, maar wil van nou af meer doen en meer tyd saam met hom deurbring. Ek wil hom beskerm terwyl hy grootword.”

Die seuntjie het aan sy redders vertel hy het deur die berge gedwaal tot hy ’n gebou gesien het. Hy het niks te ete gehad nie en van water oorleef.

Die polisie oorweeg dit om die ouers van nalatigheid aan te kla.

Bronne: BBC.com, www.japantimes.co.jp, cnn.com, theguardian.com

Lees ook op Huisgenoot.com:

‘Ek is glad nie bang nie, tannie’: Jong kankerlyer staak behandeling en stel vertroue in geloof

Is hierdie dalk Bobby se grootste aanhanger?

Jy sal nie glo hoekom kannetjie sy pa by die polisie aangekla het nie!

Wanhopige ma se geskenk vir haar siek kind gaan jou hart breek

Pa neem ma se rol vir ’n dag oor – en besef vinnig waarvoor hy hom inlaat

Groot nuus oor Gerhard Steyn se piepklein Zardi