Die Marshall Security Special Operations-span het ’n uitgebreide soektog van stapel gestuur sonder enige sukses. Later is inligting verskaf dat die man se voertuig in die Inanda-gebied gewaar is. Die persoon wat die inligting verskaf het, het die sekuriteitspan na die voertuig in die Amatata landelike gebied geneem. Dit is ongeveer 50 km van waar die bejaarde man laas gesien is.

Danksy verdere inligting wat aan die span oorgedra is, is die vermiste man in ’n huis in die nabygeleë dorpie gevind. Die plaaslike inwoners het hom glo die vorige aand op ’n grondpad sien loop en vermoed dat alles nie pluis was nie.

Hulle was bekommerd oor sy veiligheid en het hom in die dorpie laat oornag terwyl een van die inwoners met die plaaslike owerhede in verbindig sou tree.

Ten spyte dat die bejaarde man verward voorgekom het, was hy in ’n opgeruimde stemming en goeie gesondheid toe hy gevind is.

Dit het aan die lig gekom dat hy aan ’n mediese toestand ly wat daartoe gelei het dat hy nie weer sy pad terug huis toe kon vind nie. Sy motor het sonder brandstof gaan staan naby die dorpie waar hy gevind is. Marshall Security het ’n helikopter ontbied om die man weer terug te neem terwyl hulle, sowel as polisiebeamptes, weer die motor van brandstof voorsien en dit vanuit die bergagtige terrein na sy huis terug te ry. Die man se erg-bekommerde vrou en geliefdes was uiters verlig om hom heelhuids terug te verwelkom. Marshall Security sê die inwoners van Amatata is ’n lewende voorbeeld vir die gees van ubuntu vanweë hulle uitsonderlike gasvryheid en versorging van die man.

Bron: arrivealive.co.za