HY IS al ’n gereelde besoeker hier, spot die jongman toe hy ’n blikkie koeldrank in die hospitaalkantien koop.

Die ander mense staar hom aan – sommige onderlangs, ander minder subtiel.

“Dit is die ergste vir my, die mense wat my so aanstaar. Asof ek ’n monster is,” sê Anton Pieterse (33). Die eens aantreklike wildbewaarder van Phalaborwa en Zeerust praat moeilik en langsaam. Sy gesig is vermink: Sy neus en mond is skeef, hy het geen tande nie en sy kakebeen is opgebou met vleis en vel wat uit sy bobeen gesny is.

“Die koeël van ’n .458-jaggeweer is nie ’n man se speelding nie,” sê Anton later in sy kamer in die Charlotte Maxeke akademiese hospitaal in Johannesburg.

Maar dit het hy geweet; dit is waarom hy juis dié kragtige geweer gekies het toe hy daardie oggend in 2005 die loop onder sy ken gedruk en die sneller getrek het.

Maar die koeël het toe nie sy “brein weggeskiet” soos hy beplan het nie. Dit het deur sy mond getrek en aan die  bokant van sy neus uitgekom.

Sommige dae is hy spyt dat sy destydse selfmoordpoging nie suksesvol was nie; ander dae nie.

“Maar die dokters het my nou op ’n ander dosis antidepressante gesit, en ek kom beter klaar met die donkerte in my,” sê Anton. Hy drink sy koeldrank met ’n strooitjie, want hy het nie meer ’n onderlip nie.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 14 Oktober 2010.