SY WEET niks van die man wat agt jaar gelede aan haar rug gesny het nie, maar soms stel sy haar tog voor hoe hy en sy mense saam by hul huis is – gelukkig, besig met die dinge wat gewone mense as vanselfsprekend aanvaar.

Dié man wat haar lewe verwoes, wonder Mariskca du Plessis (22) dan – speel hy met sy kinders in die tuin? Stap hy en sy vrou hand om die lyf saam deur die huis?

‘‘Dan dink ek: Hoe kán jy aangaan met jou lewe nadat jy my soveel dinge ontneem het? Hoe kán jy met jou kinders speel en jou vrou vasdruk noudat ek op soveel dinge uitmis?’’

Mariskca skud haar kop verontwaardig. Sy beduie na die rolstoel waarin sy sit en streel oor die pienk kombersie wat haar verlamde onderlyf en bene bedek. ‘‘Hy’t nog nooit eens vir my jammer gesê oor dit wat hy my aangedoen het nie.’’

Agt jaar is verby sedert die omstrede ortopediese chirurg dr. Wynne Lieberthal ’n rugoperasie op die jong Mariskca verbrou het, maar sy wens steeds dat hy haar eendag verskoning sal vra nadat hy haar hier in dié stoel laat beland het.

Dan rek haar oë. Sy kan nie glo dr. Lieberthal is al weer in die nuus nie. Die Raad vir Gesondheidsberoepe (RGB) het sy naam in 2004 van die mediese register geskrap nadat hy verbroude rugoperasies op sewe mense – onder andere Mariskca – uitgevoer het.

’n Tugkomitee het hom aan onprofessionele en nalatige gedrag skuldig bevind en hy moes noodgedwonge elders gaan werk soek.

Die dokter wat destyds in Suid-Afrika miljoene rande per jaar verdien het, het in 2004 en 2005 vir die Ierse departement van verdediging gewerk en Ierse soldate in Liberië behandel nadat sy naam hier van die rol geskrap is. Maar nadat hy aansoek gedoen het dat sy saak heroorweeg word, het die RGB in 2006 beslis hy mag weer in Suid-Afrikaanse staatshospitale werk.

Die berugte dokter het tot onlangs by die Witbank-hospitaal gewerk, en die RGB het vier maande gelede beslis hy mag nou ook weer as ’n privaat praktisyn optree. Maar toe verkla nog twee van sy pasiënte hom onlangs by die RGB, en nou word hy nogmaals ondersoek.

Hy het intussen uit sy pos by die Witbank-hospitaal bedank nadat die nuwe klagte aan die lig gekom het.

‘‘Ek kan nie glo hulle het hom toegelaat om weer op mense te opereer nie,’’ sê Mariskca ontsteld. ‘‘Hy verdien nie ’n tweede kans nie.’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 29 Julie 2010.

Bespreek vir Skouspel!