Vermink en uitgeteer, met ’n dik verband wat die grusame wonde aan haar kop, ore en nek bedek, probeer die vrou moeisaam woorde in ’n fluisterstem uitkry.

Sy is uiteindelik veilig en in goeie hande ná die foltering van drie maande waarin haar eie man haar toegesluit en daagliks geskop en met ’n ketting en besemstokke geslaan het, haar hare met kopvel en al uitgepluk en kookwater oor haar rug gegooi het.

Hier in haar hospitaalbed lyk haar oë seer en moedeloos, maar dan kom sy met moeite orent om op te staan, vasbeslote om in die stoel te sit terwyl sy met ons gesels.

En skielik sien jy die sterk wil wat hierdie vrou deur so ’n wrede marteling anderkant uitgebring het.

Avril Gordon (52) van Port Elizabeth is ’n wrak, ’n skaduwee van die mooi donkerkop wat ses maande gelede met ’n vlugsersant van die lugmag 10 jaar jonger as sy getrou het.

Freddie Gordon (42) het haar so wreed aangerand en uitgehonger dat sy op die rand van die dood was toe sy gered is.

Die flappie tussen haar twee neusgate is weg, haar hele liggaam is vol wonde en haar tande is uitgeslaan, maar sy kry dit tog reg om deur haar gebarste lippe te vertel van die angs, dae wat soos ’n ewigheid gevoel het en die folterende pyn.

Soggens voor hy gaan werk het, het haar man haar met twee snytjies brood in die badkamer toegesluit. Vieruur het hy huis toe kom, die deur oopgesluit, begin drink en haar dan aangerand.

Dit was eers op 24 Maart dat bure in die Môrestond-woonstelgebou in die woonbuurt Forest Hill die ondraaglike geweeklaag uit woonstel no. 23 nie meer kon verduur nie. Hulle het gereeld by die opsigter gekla oor die gehuil en kap

geluide, maar hy het altyd gesê dis ’n saak vir die polisie.

Avril het vergeefs gebid en God gesmeek dat iemand haar tog net moet hoor, tot hulle toe eindelik wel die polisie ontbied het. En toe die klop aan die deur oplaas kom, het sy gedink haar hart gaan staan met ’n mengsel van verligting en vrees.

“Ek was op die bed in ons slaapkamer, my gesig vol bloed nadat hy my pas geslaan het. Ek was so bang die mens wat klop, gaan weer weg,” vertel sy langsaam in haar heserige, moeë stem.

“Freddie wou nie oopmaak nie. Ek was in soveel pyn; dit kon nie erger nie. Hy het deur die badkamervenster gesê hy wil nie sy vrou pla nie, want sy slaap. Maar ek dink hulle het my hoor huil. Toe skop hulle die deur oop . . .”

Freddie is nou in aanhouding op ’n aanklag van poging tot moord.

Avril se dogter, Vallery Figueira (31) van Johannesburg, luister aandagtig en geskok. Sy verwens haarself dat sy nie op haar intuïsie ag geslaan en haar ma kom soek het toe sy haar nie per telefoon kon bereik nie.

“As ek maar net die polisie gebel het! Dan het my arme ma nie deur hierdie hel gegaan nie. Sy was altyd so pragtig; ek sou haar nie herken het as ek haar nou op straat gesien het nie,” sê sy hartseer.

Ironies genoeg het Freddie gereeld by die opsigter van die woonstelgebou gespog met selfoonfoto’s van sy pragtige swartkopvrou met die diepblou oë.

Lino Polonia was daar toe die polisie die deur oopskop. Hulle het hom gevra om in te gaan en met haar te praat.

“Die mens wat daar op die bed gesit en bewe het, was nie die mooi vrou op die selfoon nie. Die bloed het oor haar gesig gestroom, haar neus was in die lengte deur in twee gebars, haar bo-lip was afgeruk, haar tande uit die kasse geslaan en haar lyf oortrek met kerf- en brand-merke,” vertel hy.

“Sy was ’n gebreekte bondeltjie mens op die bed wat so geruk het dat sy nie kon praat nie. Daar was ’n walglike reuk en die woonstel was vieslik. Leë bierblikke het in die hoeke opgestapel gelê en oopgemaakte blikkies het die hele plek vol gestaan.

"Maar die ergste was die bloed: oral teen die mure, op die vloer, op die skuimrubbermatrassies, op die stoele en tafels. Bebloede klere, potte, panne en geskeurde boeke het rondgestrooi gelê.

“Nog meer makaber was die Bybel op Freddie se bedkassie met die bondels hare en stukke afgerukte kopvel wat tussen die blaaie versteek was . . .”

Lees Avril se verhaal van oorlewing in die Huisgenoot van 14 April 2011. Die Vroueliga van die Demokratiese Alliansie het ’n trustfonds gestig om met Avril se mediese koste te help. Bel Karen Kelly by 082-320-3154 om ’n bydrae te maak.