Attie Arnoldi, ’n gastehuiseienaar, het twee weke gelede besef van sy roosbome is weg.

“My tuinman het daardie oggend vir my gesê vier van die roosbome het verdwyn. Ek het op die kringtelevisiekameras gaan kyk en toe sien ek die motor.”

Hy het egter besluit genoeg is genoeg en bied ’n beloning van R1 000 aan aan die een wat hom kan help om dié dief vas te trek. Maar volgens Attie is die video nie baie duidelik nie. “Ek het toe besluit om hulp te kry en het op die Facebook-groep Beaufort-Wes Snuffelgids gesê in ruil vir ’n beloning, soek ek inligting.”

Hy het ook drie kort videos wat deur sy veiligheidskameras geneem is, op die blad gedeel.

“Ek het op my sekuriteitskameras die ou (gesien) wat die hele dorp in rep en roer het oor die diefstal van tuinplante. Op die eerste video is die motor waarin hy gery het vroegoggend met skemer.

Die kleur is sigbaar. Op die tweede video daag hy op die misdaad toneel op,” het hy by die video geskryf.

“Hy het vier rose by my gesteel in Meintjiesstraat. Help my om hom te vang vir 'n beloning van R1 000. Kyk mooi na die motor. Ek wil hom net wys waar is die kwekery.”

Attie sê baie mense help om uit te kyk vir die verdagte motor.

“Ons het die kar gekry. Maar ons moet nog die drywer opspoor,” sê hy. “Daar is 'n klomp mense wat al deurgeloop het. Die vrou by die kafee het drie boompies geplant en die volgende oggend was dit weg.”

Volgens Attie wil hy die dief sommer ’n “taai klap” gee. “Ek wil hê hy moet my rose vervang en die vrou by die kafee se sipresse.

“Dis sommer gewone rose. Maar dit is van daardie wittes wat so mooi en baie blom.”

Hy sê dit maak hulle vies omdat plante baie duur is.

“Ander mense het amarillis en clivias. Dis ’n duur storie.”

Intussen lyk dit volgens 'n inskrywing onder die plasing van die videos asof daar wel nou iemand na vore gekom het: moontlik die eienaar van die motor.

[caption id="attachment_143730" align="aligncenter" width="599"]Skermgreep: Facebook-inskrywing. Skermgreep: Facebook-inskrywing.[/caption]

Volgens kapt. David de Klerk, woordvoerder van die polisiekantoor op Beaufort-Wes, is hulle bewus van klagtes oor plante wat verdwyn. Dit is nog nie duidelik of enigiemand al ’n klagte ingedien het nie.