Dié vermeende dief is in ’n blitsvinnige jiu-jitsu-beweging van Monique op die grond vasgepen, waarna hy gesmeek het sy pa moet hom help.

Die voorval, wat in die stad Acailandia in die weste van Brasilië gebeur het, is op kamera vasgevang.

Na wat verstaan word, het Wesley en ’n makker Monique en nog ’n vrou op die straat voorgekeer en aangedring dat hulle hul selfoon oorhandig.

Min het Wesley geweet Monique is ’n beroepstoeier van formaat.

Monique het Wesley eensklaps in haar greep gehad en hom sowat 20 minute lank vasgepen tot die polisie opgedaag het.

“Ek was nie bang nie. Ek het geweet ek kan hulle onbeweeglik maak,” het Monique aan ’n plaaslike webtuiste gesê.

’n Verbyganger het die petalje met sy selfoon op video vasgelê. Daarin kan Wesley se hulpkrete gehoor word terwyl Monique hom vashou.

Hy roep: “Pappa, Pappa, bel die polisie, Pappa. Help my, Jesus. Ek belowe, dit was die eerste keer dat ek dit doen. Help, Here! Iemand, help my.”

Wesley is na die polisiekantoor gebring waar hy ontken het hy wou die vroue beroof.

Kyk hier na die video:

Bronne: Daily Mail; Stuff.co.nz