Hierdie foto’s en video’s sou hy dan glo aanlyn aan ander pedofiele stuur. 

Glen Wilson (18) van die dorpie Longforgan in Skotland het homself in die sosiale media voorgedoen as dieselfde ouderdom as sy slagoffers.

Hy het hulle dan oorreed om naakfoto’s van hulle aan hom te stuur. 

Sodra hy die foto’s van hulle ontvang het, het hy ’n boodskap aan hulle teruggestuur. Hierin het hy hulle glo gedreig dat hy dié beelde met hul ouers, vriende, familie en in die sosiale media sal deel. 

Op dié manier het hy die jong meisies gedwing om nog meer eksplisiete foto’s en video’s te stuur.

Een van die klagtes teen Wilson is dat hy ’n 12-jarige meisie aangesê het om seksuele dade voor ’n kamera op Skype te doen terwyl ander pedofiele ingeteken en saam gekyk het.

Een van sy slagoffers moes ’n seksuele daad in haar skooluniform uitvoer. Sy het hierna selfmoordgedagtes ontwikkel, sê ’n beampte.

Sy slagoffers is drie 12-jarige, twee 13-jarige, twee 14-jarige en ’n 15-jarige meisies. Die voorvalle het tussen September 2015 en Junie 2016 plaasgevind. 

Wilson is aanvanklik deur 49 aanklagte in die gesig gestaar, maar die staatsaanklaer het toegestem dat hy op minder aanklagte verhoor word om te voorkom dat so baie van sy slagoffers in die hof moet getuig.

’n Enorme soektog is van stapel gestuur toe een van sy slagoffers by Childline oor Wilson gekla het. 

Wilson het dié week in die landdroshof in Perth, Skotland, sy verskyning op 23 aanklagte van wraakpornografie, uitbuiting en die verspreiding van kinderpornografie gemaak. Hy bly in aanhouding.

Wilson se verhoor word later in Augustus hervat. 

Bronne: mirror.co.uk, Dailymail, BBC News