’n Vermeende inbreker is verlede week in Arizona in hegtenis geneem nadat hy in ’n heining verstrik geraak het toe hy probeer ontsnap.

[caption id="attachment_166418" align="aligncenter" width="600"]Foto: Jesse Sansibar, Facebook Foto: Jesse Sansibar, Facebook[/caption]

Die man is in Tucson, Arizona, opgemerk waar hy buite die Miles Elementary School aan sy broek aan die heining hang.

Die man is verlede Vrydag vroeg opgemerk terwyl hy probeer het om die skool se deure oop te maak. Dit was ’n skoolvakansiedag, dus was geen leerders in die omtrek nie.

Volgens getuies het die man glo besef hy is opgemerk en toe probeer hy oor die tralieheining van die skool klim. Sy broek raak toe in die heining verstrengel. Hy het kop eerste geval en met sy broek om sy enkels bly hang.

Dit was toe dat Jesse Sensibar verbyry. Sy het die man onderstebo sien hang en besluit om ’n foto te neem. Sy het dit later op Facebook gedeel.

“Vanoggend, terwyl ek ooswaarts op Broadway Avenue gery het, het ek hierdie kêrel by die Miles-skool sien hang. Ek wou hom gaan help om van die heining af te kom, maar teen die tyd dat ek om die blok gery het, was die polisie al met twee motors in aantog.

“Ek weet nie wat sy storie was nie, maar dit was duidelik nie goed genoeg nie, want toe ek 15 minute later uit die ander rigting terugkom, was hy geboei en in die agterste sitplek van die polisiemotor. Hy het vir die kamera geglimlag,” het Sensibar in die plasing gesê.

Bronne: The Telegraph, Tucson News, The Daily Mail, Metro