Só verduidelik sy prokureur, Lorinda van Niekerk, oor Henri van Breda (22) se besoek verlede week aan die huis buite Stellenbosch.

Sy wou egter nie verder kommentaar lewer nie. “Ek kan nie my kliënt se doen en late bespreek nie.”

Henri se ouers, Martin van Breda (54), sy vrou, Teresa (55), en hul oudste seun, Rudi (22), is vroeg verlede jaar in hul huis op die spoglandgoed De Zalze buite Stellenbosch afgemaai. Die jongste lid van die gesin, Marli (18), het met ernstige kopwonde oorleef.

Martin se broer André van Breda het by navraag gesê die familie gaan glad nie kommentaar lewer nie.

Henri het Vrydag 18 November tydens ’n voorverhoor in die Kaapse hooggeregshof verskyn waartydens sy regspan vir verdere besonderhede uit die staatsdossier gevra het om sy eie ontleding te doen.

Rapport berig Henri se regspan sal waarskynlik sy onskuld wil probeer bewys deur die prosedure uit te daag waarop die staat DNS op die moordtoneel bekom en dit bewaar het.

Intussen het dit aan die lig gekom dat die vierslaapkamer-moordhuis deur ’n eiendomsagent van Seeff Properties vir R6,2 miljoen verkoop is.

Dit word so op Property24 aangedui dat dié eiendom wat vir meer as ’n jaar in die mark was nou van die hand gesit is. Seeff wou egter nie daaroor kommentaar lewer nie.

Deon de Swardt van Remax wat ook ’n mandaat gehad het om die huis te verkoop sê daar was tussen vier en ses aanbiedinge vir die huis wat almal op die ou end skipbreuk gelei het.

In Junie 2015 het Huisgenoot berig dat jy binne die huis van 362 m² oral tekens kon sien van die doen en late van ’n gesin wat voor die tragiese gebeure van 27 Januarie nes enige ander geleef het. In ’n slaapkamer was daar neussproei langs die bed. Brandhout vir die kaggel is opgestapel in die agtertuin, en op die etensafel het twee kerse wat tevore al moontlik vir ’n gesinsete aangesteek is, gestaan.

Maar nou sal ons eers tot Maart volgende jaar moet wag om hopelik meer duidelikheid oor die moordraaisel te kry wanneer die saak in die Kaapse hooggeregshof aangehoor sal word.