Vrede! het hy so graag van die verhoog geroep by rock-konserte. En nou rus Herman Pretorius in daardie vrede waarvoor hy so lief was.

Die 29-jarige aanbieder van musiekprogramme soos AMP en Studio 1 op MK het sy stryd teen testikelkanker verloor. Maar hy het soveel ander oorwinnings behaal, veral om jong mans bewus te maak van die gevare van hierdie siekte. Herman het nooit geskroom om openlik vanaf enige platform oor sy intieme ervaring van die siekte te praat nie.

Sy linkertestikel moes verwyder word weens die kankergewas wat daar begin groei en verder versprei het. “Maar wat’s een testikel minder nou eintlik? Die slegte appel is uit die mandjie verwyder,” het hy altyd ander bemoedig wat ook die verlies moes verwerk.

Ons het mekaar net twee keer ontmoet, maar sy dapperheid sal my altyd bybly. Soos die oggend in die onkologiekliniek in Bellville waar hy soms dae geduldig met ’n naald in sy arm moes sit om chemoterapie te ontvang. Hy was moeg, maar negatief? Nooit!

Toe het die gewasse tot amper mikroskopies klein gekrimp danksy die terapie. Hy was vol hoop. “Daar’s nog net ’n klein bietjie kanker oor om te klits!” het hy opgewonde vertel. Dit was in Mei vanjaar.

Maar toe het die kanker teruggekom en hy was weer in die hospitaal vir behandeling. ’n Week later het hy gesukkel om asem te haal weens ’n bloedklont in sy long. Hy is toe oorgeplaas na die hoësorgeenheid, maar het longontsteking ontwikkel. Sy asemhaling het so verswak dat hy in ’n koma geplaas is en aan ’n longmasjien gekoppel is om sy ongemak te verlig. Herman is op 20 Augustus in die Tygerberg-hospitaal oorlede.

“Kanker is ’n baie fisieke ding, maar ook emosioneel en geestelik,” het hy vertel. “Jy moet vrede binne jouself hê om dit te beveg of te voorkom.”