’n Draagbare metaalverklikker. ’n Gelukskoot. ’n Verborge ring. ’n Eerbare man. Dís die resep vir ’n storie wat Donald Ensor se Facebook-vriende se harte warm laat klop noudat ’n ring wat op die Durbanse strand verlore geraak het, weer ná twee dekades terug is by sy eienaar.

Donald, lid van Umhlanga se Tafelronde, het op 21 November ’n foto van ’n ring op Facebook geplaas wat hy met sy metaalverklikker onder die sand ontdek het.

“ ’n Paar dae gelede het ek ’n mansring op die Durbanse strandfront ontdek met die name Tom en Lyn, en die troudatum in 1960,” het hy geskryf. Hy het die maand en dag weerhou om seker te maak dat dit die regte eienaar is ingeval iemand hom kontak. Hy sou dié besonderhede moes verskaf.

Ook op die ring is die name Brent en Peggy, met hul troudatum in 1991. Die ring is van 18 karaat goud en is in ’n outydse styl.

“Ek wil graag die eienaar opspoor en dit terugbesorg, maar het geen idee hoe nie,” het hy geskryf en sy Facebook-vriende genooi om dit op hul blaaie te deel. Dis 4 000 keer gedoen.

Lees ook: Duiker vind paartjie se trouring byna vier dekades ná dit wegraak

Net ’n entjie ondertoe op Donald se blad is heel toevallig foto’s van sy en sy vrou, Celea, se troudag op 14 Oktober 16 jaar gelede.

’n Vrou het hom op Facebook gekontak en sy foonnommer gevra om aan ’n ene Brent te gee. Hy is ’n familielid van haar. Net ’n dag nadat hy die foto geplaas het, kon hy aankondig: “Die eienaar is gevind. Hy bly in Mtubatuba en sy ma het die ring vir hom gegee toe sy pa dood is.

Hy was in die laat 1990’s met vakansie in Durban en het die ring op die strand verloor terwyl hy visgevang het,” skryf Donald.

Toe die ring in die water val, het Brent gedog hy gaan dit nooit weer sien nie. Hy het Donald gebel en die volledige datums van sy en sy ouers se troudag korrek gegee. Teen die einde van die maand sal hy die rit van langer as twee uur Durban toe aanpak en die ring by Donald kom haal.

Donald is baie dankbaar vir die mense wat sy Facebook-inskrywing gedeel het en gehelp het om “ ’n baie sentimentele item by sy regmatige eienaar uit te kry”.

Bronne: northglennews.co.za, facebook.com