’n Duik-uitstappie na die bekende Althea-wrak tussen Bundaberg en Fraser Island in Australië het byna tragies geeïndig vir een van die duikers, Jacob Childs.

Hy was eerste in die water. Maar ’n sterk stroom het veroorsaak dat hy sy greep op die tou van die boot na die wrak verloor het. Toe hy weer sien, was hy langs die boot, maar daar was nie ’n tou om aan te gryp nie.

Die Althea-wrak

En so het Jacob, oftewel “Jakey” (30) soos hy na homself verwys, van die groep verwyder geraak. Jy kan jou kwalik iets erger voorstel. Nie ’n lewende siel of land in sig toe hy na sy duiktog deur die water breek nie. Net myle en myle see. En ’n goeie kans op seelewe wat ’n goeie aptyt vir ’n vars happie kan ontwikkel. Al wat Jacob by hom gehad het, was sy GoPro, sy helderkleurige oranje dryftoerusting en natuurlik ’n goeie skeutjie Australiese sin vir humor.

“Dis dan dit vir ou Jakey,” het hy ewe gelate sy laaste boodskap met sy GoPro-kamera opgeneem terwyl die son besig was om onder te gaan.

Hy vertel hoe hy sowat ’n uur lank probeer het om ’n vistreiler in te swem, maar hy kon nie byhou nie. Jacob moes op moedverloor se vlakte geswem het, want al kon hy nie die treiler bereik nie, kon hy nog die kragtige enjins hoor.

Hy kon ook helikopters sien en hoor terwyl hy desperaat op redding gehoop het. Maar hulle het hom nie raakgesien nie. Jacob het vir meer as ses ure water getrap toe daar skielik teen sononder ’n lig aan die hemelruim verskyn. Nee, nie ’n engel of ’n ster nie, maar die lig van ’n reddingsvliegtuig. ’n Groot reddingspoging is vroeër die dag van stapel gestuur. Gelukkig kon die reddingspan hom in die sterk skemer op spoor. Kort voor lank is Australië se Waterpolisie uitgestuur. Jacob se eerste wens ná hulle hom uit die water gepik het? Water en ’n koppie tee, asseblief.

Gaan hy ooit weer sy duikpak aantrek? “Ek sal heel waarskynlik more weer terug in die water wees,” het hy gesê.

Bronne: abc.net.au, uk.news.yahoo.com, stuff.co.nz