Ná drie weke van hulpeloosheid en onsekerheid nadat haar hond, Ally, weggeraak het, het ’n vrou van Durban Dinsdag ’n  ekstatiese weersiens met die woef gehad.

Kerri Dix-Peek het aan News24 gesê sy was bang dat die sesjarige kruising tussen ’n Duitse herdershond en ’n gryswolf dalk gesteel is.

“Ons het met my kinders uitgegaan en toe ons terugkom, was sy skoonveld; dus het ons gedink sy het moontlik uitgekom. Ons Deense hond was nog by die huis, maar Ally was weg,” het sy gesê.

Volgens Dix-Peek het sy koorsagtig na Ally gesoek.

“Ons het rondgery en al die veeartse besoek, en die volgende dag het ons almal gebel, insluitend al die veeartse in die omgewing, Durban Vaste Afval en die DBV. Ons het tot selfs die Kloof & Highway-DBV geskakel,” het sy gesê.

“Ons was baie bekommerd, want niks het daarop gedui dat sy moontlik raakgery is nie, en ons het werklik gedink sy is moontlik gesteel. Dit was absoluut aaklig, want daar is niks wat ’n mens kan doen nie en jy voel so hulpeloos.”

Volgens die ekstatiese eienares van die troeteldier het iemand Ally Dinsdag opgemerk en ’n foto van haar op Facebook geplaas.

“Ek was so verras toe ek haar foto sien en het vir my man gesê ons moet gaan seker maak. (Ally) was so opgewonde dat sy die hele pad huis toe in die motor getjank het. Ons ander hond was so bly om haar weer by die huis te hê.

“Sy is steeds mollig; dus moes sy by iemand gewees het (wat na haar omgesien het) en sy is geborsel. Ek het nie die vaagste benul hoe dit gebeur het nie.

“Sy is die gunstelinghond in ons huis, want sy is kleiner as ons Deense hond en sy stamp nie mense om nie. Sy is nes ’n elegante ou dame,” het sy vertel.

Bron Jeff Wicks, News24

Foto: Marshall Security