Dít kom nadat hy die afgelope Maandag ’n buikoperasie ondergaan het om die galstene wat na sy lewer en pankreas versprei het te verwyder. Hy het ’n virus opgedoen en dit het hartversaking tot gevolg gehad, wat verder die organe laat verswak het, het Huisgenoot by sy agent, Zinta Kymdell, verneem.

Die terugslae was egter vir sy verloofde Kaylee van den Berg (23) ’n groot skok.

“In hierdie stadium kan ek nie meer bied as emosionele en morele ondersteuning nie, al wil ek. Maar hy is gelukkig in baie goeie hande en die mediese span is uitstekend,” het Kaylee Donderdagmiddag aan Huisgenoot per Whatsapp vertel. “Dit was ’n groot skok vir my en baie hartseer dat Rikus so verswak het,” het sy gesê. “Ek is elke dag by hom by die hospitaal.”

Rikus sou Dinsdag, ’n tweede operasie om sy galblaas te verwyder ondergaan, maar volgens sy agent, Zinta Kymdell het die mediese span die opvolg-prosedure “weens onbestendige gesondheidsmerkers” uitgestel.

Zinta vertel dat Rikus reeds ’n week of twee gelede begin siek begin voel en toe al dokter toe gegaan het. Kort daarna het Kaylee hom op Donderdag 25 Mei na die hospitaal gebring. Hy is opgeneem en twee operasies is toe geskeduleer.

“Hy is spesiaal vir die vertoning by Silverstar Casino ontslaan,” vertel sy oor hoe Rikus nog Saterdagaand met ’n drup aan sy arm opgetree het.

“Direk ná die optrede was hy terug hospitaal toe,” vertel sy oor die aanloop van gebeure wat moontlik gelei het tot sy verswakte toestand. Hy het is ná die operasie na die hoësorgeenheid om te herstel. Sy toestand het egter so verswak dat hy Woensdag van dié eenheid na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas is waar sy toestand deeglik gemonitor word.

Volgens Rikus se dokters het sy toestand teen Donderdagoggend verbeter. “Die dokters is positief en tevrede met sy vordering en van hier af kan dit net beter gaan,” het Zinta laat vanmiddag aan Huisgenoot vertel.

Sy geskeduleerde optredes vir die volgende drie weke is uitgestel en die nuwe datums sal binnekort bekend gemaak word.
Rikus het in November verlede jaar in ’n onderhoud aan Huisgenoot vertel hy streef daarna om gesonder te leef omdat hy na sy hart moet kyk.

“Sy mediese span is tevrede en sê sy toestand is kritiek, maar bestendig. Rikus se bestuurspan vra verskoning vir ongerief rakende optredes wat geskuif is, maar wil hom graag gou weer sterk en gesond sien,” het persverklaring deur Zinta vroeër vandag gelees.

“Die ondersteuning van ons ouers, familie en vriende dra ons deur hierdie tyd,” het Kaylee vertel.

Hy het in 2014 sy YouTube-debuut as Jonathan van Radio Raps gemaak. Sy skreeusnaakse video’s het ’n internetsensasie geword en dit was die begin van sy loopbaan as komediant en akteur.