Belinda Louw (35), die hoogswanger vrou wat ’n week gelede by ’n motorwassery in Gezina raakgery is, is gisteraand in die Muelmed-hospitaal oorlede.

Dié Pretorianer was 38 weke swanger met haar en haar verloofde, Corné Hitge, se eersteling toe ’n motor by die Sasol-vulstasie op die hoek van Johan Heynsrylaan en Ben Swartstraat oor haar gery het terwyl sy gewag het dat haar motor klaar gewas word.

Belinda en Corné was van plan om hul baba, wat verlede Vrydag met ’n keisersnee gebore sou word, Ryan te noem. In die voorval het Belinda die baba verloor en ’n paar ribbes en haar bekkenbeen gebreek. Sy het ook ’n laserasie op haar pankreas gehad; haar een long en haar niere het seergekry.

’n Hartseer Corné het Saterdag op sy Facebook-blad geskryf: "Laat my seun sag by jou voete rus, Heer, en help asseblief my liefling deur hierdie moeilike tyd."

Sondag het hy bloot geskryf: "Verpletter".

Alex, Belinda se broer, het nie sy foon geantwoord toe Huisgenoot hom Maandagoggend kontak nie.

Lees ook: Hoogswanger vrou verloor baba ná sportnutsvoertuig haar by motorwassery tref

Huisgenoot het vroeër berig die motorwasser wou die motor glo van die wasgebied na die plek neem waar dit gestofsuig sou word. Hy het beheer oor die voertuig verloor en by die waggebied ingery.

Die wasser sou Maandagoggend dissiplinêr verhoor word. Toe Huisgenoot daar opdaag, het die bestuurder van die vulstasie, Eduan van As, gesê hulle is nog nie seker hoe laat die verhoor gaan plaasvind nie aangesien hulle wag vir terugvoer van die departement van arbeid.

Belinda louw swanger1 FB

Aanvanklik is die wasser van roekelose bestuur aangekla, maar kapt. Coba Brits, polisiewoordvoerder, het intussen bevestig die voorval word nou as ’n saak van strafbare manslag hanteer.

Niemand is egter al in hegtenis geneem nie.