Jessica Simpson se pa is vir prostaatkanker geopereer.

Die siekte is twee maande gelede gediagnoseer by Joe Simpson, bestuurder van die loopbane van sy dogters, Jessica en Ashlee, wat albei sing en toneelspeel. Hy herstel tans ná ’n operasie.

Sy verteenwoordiger het aan People.com gesê die 58-jarige Joe is reeds weer doenig met sy ander werk as fotograaf.

“Hy voel nou baie goed en is optimisties,” het ’n bron aan die webtuiste gesê. “Hy het so baie liefde en steun van sy familie en vriende gekry.”

Lees ook: Ben Stiller gesels oor stryd teen aggresiewe prostaatkanker

Trouens, dit gaan luidens berigte so goed met Joe se herstel dat hy op pad is na Japan om, benewens ander veldtogte, die voorbladfoto vir die tydskrif Nation-Alist te neem.

Die nuus kom nadat hy vroeër vanjaar sy eerste foto-uitstalling, Dream Works, in Los Angeles geopen het.

Hy het destyds aan People gesê: “Ek het altyd daarvan gehou om agter die kamera te wees. Ek was selfs toe ek 19 was die fotograaf op my eie troue! Iets omtrent die neem van foto’s maak my gelukkig. Dit was altyd my stokperdjie.”

Jessica en Ashlee Simpson, wat nog geen kommentaar gelewer het oor hul pa se operasie nie, het albei die opening van die galery in Mei vanjaar bygewoon. Die uitstalling het kunstige foto’s van die sterre ingesluit. Joe het vertel hy het sy dogters vroeg in hul loopbaan na hul fotosessies begelei, waar hy ’n klompie nuttige kamerawenke by die professionele fotograwe gekry het.

Lees ook: Navorsers bevind omega-3-vetsure kan prostaatkanker help klop

“As hul pa was ek natuurlik gewoond daaraan om die twee voor die kamera en by honderde fotosessies te sien,” het die voormalige pastoor gesê. “Dit was dus ’n baie koel en trotse oomblik om hulle as Joe die kunstenaar af te neem en nie net as hul pa nie!”

Sedert hy en hul ma, Tania, in 2013 ná ’n huwelik van 35 jaar geskei is, is daar ’n baie noue band tussen die meisies en hul pa.

Cover Media