[caption id="attachment_131012" align="alignnone" width="600"]CJ Jansen van Vuuren en sy meisie, Juané Potgieter in gelukkiger tye. Foto: Facebook CJ Jansen van Vuuren en sy meisie, Juané Potgieter in gelukkiger tye. Foto: Facebook[/caption]

Die naasbestaandes van die paartjie, wat dae voor hul dood begin uitgaan het, het nog geen afsluiting gekry oor hoe hul kinders vermoedelik ure ná hul gesamentlike verjaardagpartytjie raaiselagtig saam dood is nie.

Dit sal Saterdag ’n maand wees sedert CJ Jansen van Vuuren (30) en sy meisie, Juané Potgieter (ook 30), in Juané se bed in die slaapkamer van haar huurhuis in die sekuriteitskompleks Panorama Park gevind is.

Die paartjie was volgens ’n getuie op die toneel Saterdagaand 11 Junie naak en daar was tekens van bloed wat uit hul neus geloop het. Hoewel daar wyd bespiegel word dat hul dood dwelmverwant kan wees, was daar na bewering geen bewyse van dwelms op die toneel gevind nie.

Die paartjie het volgens vriende en familie ook nie dwelms gebruik nie.

Juané het daardie Woensdag, 8 Junie, 30 jaar oud geword en CJ die Vrydag, die dag van die partytjie op 10 Junie. Hy het haar in daardie week gevra om sy meisie te wees.

Kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het aan Huisgenoot gesê die uitslag van die lykskouing en die bloedmonsters wat geneem is, kan nog ’n geruime tyd duur. Dié forensiese toetse word deur die departement van gesondheid hanteer.

Volgens Ronel is ’n geregtelike doodsondersoek deur die polisie begin aangesien daar in dié stadium geen misdaad vermoed word nie en die oorsaak van hul dood nog onbekend is.

Intussen sukkel hul families om hul ontydige dood te verwerk.

“Dit was die gelukkigste wat ek my dogter ooit gesien het. Sy het die naweek nog vir my gesê: ‘Mamma, ek het my soulmate ontmoet,’ ” vertel ’n verslae Teresa Luck (49), Juané se ma, wat in Namibië woon oor die naweek toe haar dogter en nuwe kêrel saam voor hul dood op die plaas gaan kuier het.

Teresa vertel CJ was ’n baie aangename mens. “Ek het regtig van hom gehou. Ek het gedink sy het nou iemand ontmoet wat mooi na haar kindertjies kan omsien.” Juané was baie erg oor haar dogter (7) en seun (10). Hulle was ten tyde van die tragedie by hul pa en CJ se seuntjie (3) by sy ma.

Sy vertel haar dogter was erg teen dwelms gekant weens haar jonger broer se geskiedenis met dwelms.

“As sy dwelms gebruik het, sou ek geweet het. Sy het altyd haar broer probeer help en vir hom blyplek aangebied.”

Die moontlikheid van selfdood is ook vir haar buite die kwessie. “Sy het twee kinders vir wie sy bitter lief is.”

Teresa vertel Juané se seuntjie ervaar sy ma se dood baie sleg. “Hy huil vreeslik oor sy mamma.” Sy vertel sy sussie is baie stil en praat nie daaroor nie. Albei die kinders kry berading.

“Juané was baie outgoing; sy was sprankelend. Sy was ’n vlinder wat van een blommetjie na ’n ander gevlieg het. Sy het so ’n spontane geaardheid gehad, sy sou met enigiemand gesels.”

Teresa sê haar dogter “was baie erg oor haar lyf” en was van plan om weer binnekort aan ’n liggaamsbou-kompetisie deel te neem.

Fred van Heerden, Juané se werkgewer, vertel sy het langer as vier jaar in die finansiële afdeling van sy eiendomsagentskap gewerk.

“Sy was ’n harde werker, ’n go-getter. Niks was te veel moeite vir haar nie,” vertel hy.

Hy vertel toe CJ haar daardie week amptelik vra om sy meisie te wees, was sy oorstelp van blydskap. “Ek weet hulle was ’n tyd lank eers vriende. Sy was so trots daarop toe hy haar eindelik vra om met hom uit te gaan. Sy het lank vir hom gewag.”

Die gemeenskaplike vriendin vertel hulle het die aand lekker saam by die kuierplek Halloa in die Bela-Bela-waterfront gekuier. Sy vertel daar was borde eetgoed, ’n koek en ’n afsonderlike kroeg waar almal later die aand shooters gedrink het. Sy vertel omstreeks 02:00 is Juané en CJ daar weg na ’n vriend se huis. Daar het hulle verder gekuier. Hulle het vermoedelik eers tussen 03:00 en 05:00 by Juané se huis gekom. Nóg ’n vriend het oorgeslaap.

Juané se broer en dié se meisie, wat nie die aand by die partyjie was nie, was na bewering ook daar.

Volgens die vriendin het die vriend wat oorgeslaap het later die oggend aan hul deur geklop om te sê hy gaan ry. Die deur was gesluit. Die broer het glo ook geen woord van hulle die dag gehoor nie.

Die paartjie het daardie Saterdagaand, die aand ná die partyjie, nie vir ’n potjiekoskuier opgedaag nie. Hul vriende het bekommerd geraak omdat hulle deur die loop van die dag ook glo nie een hul selfone geantwoord het nie. Een van hul vriende het toe ’n draai by Juané se huis gemaak.

“Die voordeur was oop en hy het reg na hul kamer gestap. Die deur was nie gesluit nie, maar die sleutel was binne-in die deur.”

Sy vertel Juané het op haar maag gelê. Haar naakte liggaam was gedeeltelik met die kombers toe. ’n Mens kon nie haar gesig sien nie, maar daar was na bewering bloed op die beddegoed, vermoedelik waar haar neus gebloei het. CJ was heeltemal oop, maar een been was van die bed af. ’n Mens kon sy gesig sien. Sy neus het ook gebloei.

Die vriendin vertel daar het nie bloed by hul ore uitgekom soos in ander berigte beweer word nie. Niks anders was glo uit plek nie en niks is gesteel nie. Die paartjie se selfone en beursies is op die toneel gevind.

“Ek dink net heeltyd: As hulle die aand besluit het om dwelms te gebruik, dalk net om ’n bietjie lekker te voel, hoekom het hulle albei ’n oordosis geneem?”

Sy vertel die paartjie het die aand geensins ooglopend erg besope voorgekom nie.

Familie en vriende van Juané en CJ het onderskeidelik op 18 Junie en 2 Julie van hulle vanuit die NG Kerk Warmbad-Wes afskeid geneem.