Die 18-jarige Lee de Paauw het toe nie die meisie beïndruk op wie hy ’n ogie gehad het nie – selfs al het hy in 'n rivier wat wemel van krokodille gespring.

Volgens Daily Mail het Lee saam met vriende en ’n paar Britse rugsakreisigers, onder wie Sophie Paterson, die meisie op wie hy verlief was, by ’n restaurant in die verre noorde van Queensland, Australië, drankies gedrink.

Sophie (24) beweer Lee het later die aand begin spog hy kan in ’n rivier vol krokodille inspring en ongedeerd uitswem, want hy is Australies.

“Hy het van die Johnstone-rivierloop, buite die nabygeleë dorp Innisfail, gepraat en gesê: ‘Ek kan uitswem.’ Toe sê ons: ‘Nou toe dan,’ maar ons het nie gedink hy sou nie,” het Sophie aan Courier Mail gesê.

?

A post shared by Sophie Paterson (@sophpaterson) on

Tot almal se skok het die tiener wrintiewaar in die rivier gespring.

In ’n onderhoud met die radioprogram Fitzy and Wippa het Lee vertel wat daarna gebeur het.

“Nadat ek uitgedaag is, het ek van die kaai af gespring. Ek het na die trappe teruggeswem om uit te klim en was op die punt om myself op te trek toe die krokodil my arm beetkry en my begin terugtrek en my begin omrol. Ek het hom op die snoet geslaan en sy greep het verslap.

“Ek het nog ’n hou ingekry en dit was reg in die oog. Hy het my toe gelos.

“Ek het nie geweet daar is ’n krokodil nie. Ek het dit net vir Sophie gedoen.”

Lee is na die hospitaal gehaas, waar dokters sy arm kon red. Hy het daarna beweer Sophie het gesê hulle kan op ’n afspraak gaan.

Maar sy manhaftige poging het Sophie glad nie beïndruk nie en sy sê eerder dit was verskriklik. “Hy is te jonk vir my en om deur diere aangeval te word, roer nie my hartsnare nie.”

Ten spyte van alles is hy steeds smoorverlief op Sophie, wat hy as “gaaf, oulik en sorgsaam” beskryf. In die radio-onderhoud het Lee gesê dit sou alles die moeite werd gewees het as Sophie saam met hom uitgegaan het.

Bronne: Daily Mail, Fitzy & Wippa, Courier Mail.