Wat nog te sê liefde vind. Maar nou gaan sy die toekoms met sterre in haar oë tegemoet.

Ná ’n beroerte was Riona Kelly (37) van haar middellyf af ondertoe verlam. “Nadat ek vyf dae in die hospitaal was, het die dokters gesê dit sou my ses maande tot ’n jaar neem om te herstel,” onthou sy.

Dit was egter nie al skoknuus wat Riona, van Halifax in Wes-Yorkshire in Engeland, moes verteer nie. “Nie net moes ek verlamming te bowe kom nie; ek moes ook verwerk dat ek my lewensmaat van die afgelope 14 jaar verloor het.”

Riona sê haar man, Richard, het haar verlaat terwyl sy in die hospitaal was. “Ek het verskriklik alleen gevoel nadat hy my om ’n egskeiding gevra het.” Sy sê sy wou die handdoek ingooi, maar moes sterk wees ter wille van die kinders, Leighanra (16), Caleb (11), Izabela (9) en Logan (5).

Haar lewe het in 2015 soos handomkeer verander. “Ek was op ’n dag by die huis met Logan. Ek kan nie presies onthou wat gebeur het nie, maar ek het by die trappies afgeval en Logan moes hulp ontbied.” 

Sy is inderhaas hospitaal toe geneem. Daar is bevind sy het ’n spinale beroerte gehad en dat haar bene verlam is. Riona is aanvanklik ingelig sy sou binne ses weke weer haar eerste tree kon gee.

Ek het my lyf gesleep en daar was geen gevoel in my bene nie, maar dit het my nie gepla nie.

Ná ses weke kon Riona steeds nie haar bene beweeg nie. “Dis toe dat die dokters sê ek sal nooit weer kan loop nie.

“Ek was 18 maande voor die val in ’n motorongeluk betrokke, en volgens hulle kon dit probleme in my ruggraat veroorsaak het. Andersins was ek fiks en gesond.”

’n Vasbeslote Riona het ure lank fisioterapie ondergaan, en eindelik het sy met behulp van die parallelle balk haar eerste treë gegee – net twee weke nadat dokters verklaar het sy sou nooit weer kon loop nie. 

“Ek het my lyf gesleep en daar was geen gevoel in my bene nie, maar dit het my nie gepla nie. Ek het geloop, en dis al wat saak gemaak het. My adviseur was baie emosioneel. Hy kon nie glo wat ek reggekry het nie.”

Sy vertel: “Dit het fantasties gevoel om eindelik my eerste treë te kon gee!”

Hierdie reis het haar toevallig ook ’n onverwagte romanse besorg. “Ek het verlede Januarie op Facebook gesê ek soek ’n persoonlike instrukteur. Van my vriende het voorgestel ek tree met Keith Mason in verbinding.

Ek kon eenvoudig nie glo ’n fantastiese rugbyspeler sou met ’n gestremde vrou soos ek wou uitgaan nie

“Ek en Keith het ná my sessies kontak behou. Hy het my gevra hoe ek vorder, en sedertdien het ons verhouding geblom. Ons is nou 11 maande bymekaar. Die kinders hou werklik van hom, en dit voel eindelik of ek die lewe het wat ek verdien.”

Vir haar voel dit of sy die boerpot gewen het. “Ek kon eenvoudig nie glo ’n fantastiese rugbyspeler sou met ’n gestremde vrou soos ek wou uitgaan nie.” 

Die paartjie se liefde strek egter verder as wat die oog kan sien. “Keith sê ek inspireer hom. Hy moedig my aan en verstaan en sien die pyn waarmee ek te kampe het. Hy behandel my en die kinders ongelooflik goed, en ek raak elke dag net liewer vir hom.” 

Bron: Magazine Features