“Die opname het getoon die helfte van die respondente glo dis betaamlik vir mense jonger as 18 jaar om alkohol te drink,” het die verbruikerinsigmaatskappy Pondering Panda in ’n verklaring gesê.

“Sowat 43 persent van mense tussen 15 en 17 jaar voel die wettige ouderdomsperk moet onder 18 wees, vergeleke met 54 persent van mense tussen 18 en 24 jaar en 48 persent van mense tussen 25 en 34 jaar.”

Onder rassegroepe is jong, wit Suid-Afrikaners die waarskynlikste wat ’n laer wettige drinkouderdom wil hê.

“Amper twee derdes van die wit respondente (63 persent) het gemeen die wettige drinkouderdom moet verlaag word, vergeleke met 59 persent van bruin respondente en 46 persent van swart respondente,” het die verklaring gesê.

“Daar was ook verskille tussen streke; respondente van Noordwes (59 persent), Limpopo (57) en die Vrystaat (57) gaan waarskynlik ’n wettige drinkouderdom onder 18 ondersteun.

Respondente van KwaZulu-Natal het die moontlikheid die minste ondersteun.

Die maatskappy het landwyd 4 657 respondente tussen 15 en 34 jaar op selfone en die internet ondervra.

“Die helfte van jong mense meen dit is oukei om voor 18 te drink en wil hê die wettige drinkouderdom moet verlaag word. Hierdie syfers strook goed met soortgelyke studies oor minderjariges wat drink in Suid-Afrika,” het die Pondering Panda-woordvoerder, Shirley Eadie, gesê.

“Tog het ons ook bevind sowat die helfte van die respondente meen minderjariges wat drink is ’n probleem, en dit beïnvloed hoe hulle die wettige drinkouderdom beskou.”

Shirley het gesê die opname het die klem geplaas op Suid-Afrikaanse minderjariges wat drink, en die ontstellend hoë steun om dit wettig te maak. “Ons weet minderjariges wat drink is volop in ons samelewing. Die vraag is, wat gaan ons daaromtrent doen?”