Brig. Vishnu Naidoo het gesê die 39-jarige, wie se alias “APE man” is, het die foto’s selfs tot in Amerika met gebruikers gedeel. Sy “aanlyn avonture” is aanvanklik deur daardie land se departement van binnelandse sake bespeur.

“Nadat ons inligting van ons Amerikaanse kollegas ontvang en opgevolg het, het die gespesialiseerde span wat vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings werk die verdagte (Woensdag) by sy werkplek in Boksburg in hegtenis geneem,” het Vishnu gesê.

“Die verdagte het na bewering tot 50 foto’s van die slagoffer in naakte poserings geneem en dit aanlyn geadverteer terwyl die kind se ma onbewus was van waaraan haar kêrel haar dogter onderwerp.”

Die polisie het op drie skootrekenaars, twee eksterne hardeskywe, twee selfone, drie SD-kaarte, ’n mini-spioenasiekamera, digitale oudiospeler en PlayStation-konsole beslag gelê.

Die man sal na verwagting vandag in die landdroshof in Boksburg verskyn.

Bron: News24