Jou stem tel! Dit is die vernaamste voorspelling wat met veiligheid halfpad deur Donderdag gemaak kan word, volgens Pieter du Toit.

anc web
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het vanoggend gesê amper 80 persent van die uitslae is nou deur en tellers werk onverpoos om die finale uitslae deur te stuur.

Dat die ANC steun inboet, is ’n feit. Dit word nêrens beter bewys as deur die feit dat die IVP die munisipaliteit waarin pres. Jacob Zuma se Nkandla-woning is, met ’n meerderheid van meer as 56 persent ingeneem het nie.

Lees ook: Verkiesing 2016: Wat die uitslae sover voorspel

Die simboliek daaraan is erg, maar wat veel erger is, is die feit dat meer DA-kiesers in DA-gebiede gaan stem het as ANC-kiersers in ANC-gebiede. Dit beteken die DA gaan beter vaar in kiesafdelings waarin hy regeer én in plekke waar hy nie regeer nie.

Lees ook: Bekendes spog met hul duime op stemdag

Dawie Scholtz, ’n ontleder vir News24, sê wiskundige modelle wys die DA gaan heel waarskynlik die sterkste party in Nelson Mandelabaai (Port Elizabeth) wees, terwyl geen party ’n volstrekte meerderheid van 50 persent of meer gaan behaal nie. Dit maak die deur vir Julius Malema en die EFF oop om te besluit met wie hy wil saamspan.

Vyf goed wat jy vanmiddag moet weet:

1. Hierdie verkiesing is tot dusver ’n oorwinning vir die DA en Mmusi Maimane. Die party lyk asof hy besig is om beduidende vordering in gebiede buite die Wes-Kaap te maak en Maimane het nou waarlik ’n nasionale profiel.

2. Mense is vervreem van die ANC. Nie oral nie, maar beslis. Ons het in die aanloop tot stemdag gesien hoe mense hulle tot geweld wend – nou het hulle hul skynbaar tot die stembus gewend.

3. Zuma het die ANC bewysbare en sigbare skade berokken – daaroor kan niemand twyfel nie. Nkandla, die afdanking van die minister van finansies en die sage rondom die sogenaamde spioenasiebande het in mense se kop vasgesteek.

4. Êrens, weg van die flitsende kameras en die flikkerende telbord by die OVK se nasionale uitslagsentrum, vind dringende gesprekke rondom koalisies plaas. Sowel die DA as die ANC vry na die EFF. Wie gaan Julius kies?

5. Ons het nog ’n entjie om te stap vandag en die prentjie gaan verander. Baie belangrike stempunte en rade is nog uitstaande, insluitend die townships rondom Pretoria asook Soweto en die woongebiede aan die Wes- en Oos-Rand in Johannesburg.

Besoek News24, Netwerk24 of die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se webtuistes vir uitslae soos dit bekendgemaak word.

** Pieter du Toit het oor elke verkiesing sedert 2004 vir Media24 verslag gedoen.