Dis nog te vroeg om met sekerheid te sê presies waar die ANC se grootste verliese gaan wees, maar een ding is vroegdag reeds seker – die ANC is in die moeilikheid.

[caption id="attachment_133206" align="alignnone" width="600"]Volg die uitslae regstreeks op News24 se verkiesingsapp. Foto: Skermgreep, News24 Volg die uitslae regstreeks op News24 se verkiesingsapp. Foto: Skermgreep, News24[/caption]

Die WNNR se wiskundige modelleringsdepartement het op RSG voorspel hul projeksies toon die ANC kan tot so min as 55% van nasionale steun trek, terwyl News24 se ontleder Dawie Scholtz sê sy berekenings wys die DA gaan die grootste party in die Nelson Mandelabaai-metroraad (Port Elizabeth) wees.

As dit gebeur sal ons politieke landskap nooit weer dieselfde wees nie – en die ANC sal hom moet vetsmeer vir nog verdere verliese in die algemene verkiesing van 2019.

Benewens Nelson Mandelabaai is die metrorade van Tshwane en Johannesburg die ander vernaamste strydvelde. Dis uit die vroeë uitslae daar egter nog te vroeg om gevolgtrekkings te maak.

Vyf goed om dop te hou terwyl jy die uitslae volg:

1. Die DA het die ANC-beheerde Kouga-munisipaliteit in die Oos-Kaap gewen. Hy het reeds ’n paar ander wyke in die ANC-hartland ingeneem. Hou veral die nywerheidsgebied rondom Uitenhage dop – as die ANC daar sukkel, is die skrif aan die muur.

2. Die stempersentasie – hoeveel mense gaan stem – gaan laag wees. Hoe laer dit is, hoe slegter vir die ANC. Die DA was tot dusver suksesvol om sy kiesers by die stembus te kry. As die stempersentasie onder 55% is, gaan die ANC kwaai verliese ly.

3. Wat gaan die swart middelklas in Gauteng doen? Die ANC in Suid-Afrika se ekonomiese hartland het hard gewerk om afstand tussen hom en pres. Jacob Zuma te skep. Die boodskap was: “Ons in Gauteng is nie Zuma nie.” As hy suksesvol is, sal hy steun behou.

4. Voor die verkiesing was daar onrus en geweld reg rondom Pretoria: Atteridgeville, Hammanskraal en Mamelodi. As die stempersentasie, soos verwag, laag is kan die ANC minder steun kry en kan die resies nek aan nek wees.

5. Die EFF het hard in Limpopo en in Noordwes gewerk. Hy staan veral sterk in en om Marikana en is oortuig hy staan ’n kans om die Rustenburg-raad in te palm. Dis ’n groot toets vir Julius Malema en sy kornuite.

Besoek News24, Netwerk24 of die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se webtuistes vir uitslae soos dit bekendgemaak word.

** Pieter du Toit het oor elke verkiesing sedert 2004 vir Media24 verslag gedoen.