Saterdagoggend het die kop-aan-kop-stryd om drie metros in Gauteng nog voortgeduur met die ANC en die DA wat deurgaans die ander verbysteek. Intussen is die stemtellery in Tshwane en Ekhurhuleni afgehandel.

Rondom 12:00 Saterdag was sowat 91% van stemme in Johannesburg getel, met die verskil tussen die aantal stemme vir die ANC en die DA enkele desimale punte.

Op hierdie tydstip het die ANC voorgeloop met 42,82% van die stemme terwyl die DA kort op hul hakke was met 40,85%. Die EFF staan op 10,63%.

"Die DA is gereed om die ANC tot onder 50% te bring in Johannesburg," het die DA-leier Mmusi Maimane Saterdag in ’n persverklaring gesê. "Dis duidelik die ANC gaan nader aan 45% eindig." Mmusi het ook bevestig dat die DA se burgemeersterskandidaat, Herman Mashaba, die moontlikheid van ’n koalisieregering in die Goudstad gaan ondersoek wat hy sal lei.

In Tswane het die nou stryd tussen die DA en die ANC geëindig met ’n DA-oorwinning van 43,1% teenoor die ANC se 41,48%. Volgens Mmusi het die DA se steun in hierdie munisipaliteit met meer as 13% toegeneem sedert 2006.

In Ekhurhuleni het die ANC 48,62% van die stemme ontvang teenoor die DA se 34,20% In hierdie stadium lyk dit asof die ANC se steun in vyf uit die nege munisipaliteite in Gauteng onder die 50%-kerf gaan eindig. In Nelson Mandelabaai het die DA amptelik as oorwinnaars met 46,71% van die stemme oorheers. Volgens Mmusi is dit op van die 40,13% wat die party in 2011 daar behaal het. Intussen vier Mmusi ook vandag sy elfde huweliksherdenking en het sy vrou, Natalie, op Twitter geluk gewens.

Bronne: News24; Netwerk24; DA-persverklaring