[caption id="attachment_133347" align="alignnone" width="600"]Dié kaart is 'n skermgreep van News24 se regstreekse verkiesingsapp. Dié kaart is 'n skermgreep van News24 se regstreekse verkiesingsapp. [/caption]

Onthou, hierdie is ’n party wat al vir 22 jaar gemaklik regeer; ’n party wat gewoond is aan oorweldigende meerderhede en gewoond geraak het aan mag.

Lees ook: ‘Pres. Jacob Zuma verinneweer ANC by stembus’

Die legkaart is nog nie voltooi nie, maar die buitelyne is sigbaar en die meeste inkleurwerk is gedoen.

Kyk bietjie na die diepte van die ANC se verliese:

? In Johannesburg het die party tot dusver meer as 16% steun sedert 2011 ingeboet en het dit vanoggend op amper 42% gestaan.

? In Pretoria (Tshwane) het die ANC 14% steun aan die DA en EFF afgestaan en net meer as 41% van alle stemme op hom verenig.

? Algeheel in Gauteng het die ANC se steun sedert 2011 met 14% tot 45,06% geval. Vergelyk dit met sy steun in die algemene verkiesing van 2014 van 54,52% – ’n skamele twee jaar gelede!

? In Port Elizabeth (Nelson Mandelabaai) het die party se swak regering daar die ANC 10% steun gekos en hom tot minderheidsparty verdoem. Hy kan staatmaak op 41% van Baaienaars se ondersteuning.

? Nasionaal staan die ANC se steun op net meer as 54%. Dit is ’n val van meer as 7% sedert die vorige munisipale verkiesing in 2011. Die ANC het in die algemene verkiesing twee jaar gelede 62,15% van stemme verower.

Hierdie verliese is nie een of twee persentasiepunte of ’n verlore distriksmunisipaliteit in die platteland êrens nie. Die stemuitslae is ’n bestraffing van die ANC se volharding met pres. Jacob Zuma as leier en die arrogante manier waarop die regerende party sy ondersteuners as stemvee hanteer.

Die finale uitslae is nog uitstaande en die prentjie gaan beslis nog verfyn word – maar ons politiek betree ongetwyfeld nou die opwindendste tydperk sedert die onderhandelingstyd van 1990 – 1994.

Besoek News24, Netwerk24 of die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se webtuistes vir uitslae soos dit bekendgemaak word.

? Pieter du Toit het oor elke verkiesing sedert 2004 vir Media24 verslag gedoen.