Deur die loop van Saterdag was die regerende party en die amptelike oposisie telkens kop-aan-kop met net enkele stemme wat die partye van mekaar onderskei het.

Net na 21:00 is dit egter bevestig: die ANC wen in Johannesburg met 44,99% van die stemme teenoor die DA se 38,40%. Die EFF is derde met 10,94% van die stemme.

Daar is 270 setels in die Johannesburg-metro se statsraad. Die ANC het 121 setels gewen en die DA 104. Die regerende party benodig dus nog 15 ekstra setels om ’n meerderheid van 50%+1 te bekom. Die DA benodig ’n verdere 32 setels.

As die DA en die EFF, wat 30 setels gewen het, saamwerk, sal die amptelike oposisie steeds twee setels kort om ’n meerderheidstem te vorm.

Vroeër vandag het die ANC ook beheer van Tshwane verloor. Die DA het 43,1% van die stemme gewen teenoor die ANC se 41,23%. Terwyl die EFF met ’n beduidende 11,71% van die stemme weggestap het.

Die DA gaan hier ook ’n koalisieregering moet vorm ten einde volle beheer van die metropool oor te neem.

Tshwane is die administratiewe hoofstad van Suid-Afrika waar die president en die adjunkpresident se kantore in die Uniegebou is.

Bronne: News24; Netwerk24