1. Ek kan nie onthou waar ek moet gaan stem nie.

Kliek hier as jy onseker is oor waar jy geregistreer is. Sleutel jou ID-nommer in om te kyk of jy wel geregistreer is en waar jou stembus is.

Jy kan dit ook met behulp van jou selfoon uitvind deur *120*432# te bel, of jou identiteitsnommer na 32810 te SMS. Elke SMS kos R1. Jy kan ook die tolvrynommer 0800-11-800 bel vanaf ’n landlyn of jou selfoon.

2. Mag ek by enige stemlokaal stem?

Nee, jy mag ongelukkig slegs gaan stem by die stemlokaal waar jy geregistreer is.

3. Wat moet ek saam neem om te mag stem?

Onthou, jou paspoort of rybewys sal nie aanvaar word vir stemdoeleindes nie. Jou groen ID-dokument met ’n strepieskode óf jou Smartcard ID of ’n tydelike geldige ID is die enigste dokumente wat jou toelating tot die stembus gee.

4. Hoe laat kan ons begin stem?

Die stembus is van Woensdagoggend sewe-uur tot die aand sewe-uur oop.

5.Kan ek my politieke party met my kleredrag ondersteun?

Kiesers kan wel klere dra waarop die party wat hulle ondersteun, uitgebeeld word. Kandidate van die onderskeie politieke partye en verkiesingsbeamptes mag egter glad nie klere met die onderskeie politieke partye daarop uitgebeeld binne die stemlokale dra nie. Dieselfde geld vir plakkate, baniere en enige ander party-promosiemateriaal.

6. Kan ek stem vir wie ek wil?

Jy mag vir enige persoon/party op die stembrief stem (een stem per stembrief). Niemand mag jou voorsê, dreig, intimideer, omkoop of beveel om vir ’n spesifieke party/persoon te stem nie.

7. Kan iemand saam met my binne die stemhokkie wees?

Nee, net jy en jy alleen mag die stemhokkie betree.

8. Mag ek ’n selfie neem wanneer ek my kruisie trek?

Jy mag nie foto’s van jou stembrief neem nie. Maar jy kan enige tyd nadat jy die stemlokaal verlaat het, jou stemervaring met jou vriende en familie op sosialemedia deel. Gebruik #ivoted en #2016MunicipalElections wanneer jy op sosialemedia daaroor wil gesels.

9. Wat van vuurwapens? Vuurwapens mag nie na die stemlokaal geneem word nie. 10. En wat van die verkiesingsuitslae? Jy kan die verkiesingsuitslae regstreeks volg danksy News24 se app. Klik hier vir meer inligting. Nog onseker of vrae wat pla? Besoek elections.org.za vir meer inligting.